Vir die agter-agter kleinkinders

Below are the adventures your ancestor, Alwyn "Ollie" Smit had in his first 17 years.
Sorry kiddo, it's all in Afrikaans, but your father (or Google Translate) can translate the captions of whatever photo catches your eye and tell you the rest. 
For your ancestral genes helped to shape your body (a bit), but more important, according to the theory of Morphic Resonance, Ollie's memories are all around you and still help to shape your thinking today.
So dig in and get to know the adventures of one of the toughest, luckiest, green-fingerest boys that ever walked across the Kalahari desert.

Moenie mooi pitte eet nie!

Kasterolie sade.
My eerste herinerringe was toe ek drie jaar oud was en ons op ‘n klein plekkie genaamd Abiam in die Noord Kaap gebly het.
Al was ek toe nog klein, kan ek baie gebeure van daardie tyd onthou. Soos byvoorbeeld toe my pa se broers, oom Floris en oom Andries, by ons aangesluit het met die plan om in destyds se Suidwes plaas te gaan koop.
Ons het toe op ’n hoë kalkkoppie langs die Molopo Rivier in ‘n kliphuisie gebly. Langs die rivier was ’n ou sandput waaruit ’n wilde kasterolieboom gegroei het. 
Ek was amper vier jaar oud toe ek, my suster, my niggie en neef onder die boom gaan speel het. 
Die blink oliesade was vir ons baie mooi.
Ons het elkeen ’n klomp sade opgetel en nie lank nie, toe eet ons van die sade en word ons natuurlik baie siek met erge maagkrampe. 
Ons twee grootste kindertjies was krom van die pyn en het gevoel ons gaan amper dood.
Oom Florus se vrou, tant Johanna, was baie kwaad en het my niggie ’n pak slae gegee omdat sy die pitte wat sy weet sy nie mag eet nie, in haar mond gesit het. 
Die plaas Abiam is nog steeds tussen niks en nêrens.
Ek onthou nog hoe ek by my ma gepleit het dat tannie Johanna nie vir Kit nie so baie moet slaan nie.
My moeder was sagmoedig en het my so bejammer met my maag krampe dat ek darem net met raas wegkom het. 
Die twee kleintjies het natuurlik skotvry daarvan afgekom. Maar ons het van toe af na ons moeders geluister en het nooit weer mooi sade opgetel om te eet nie!

Sewe wilde honde met twee skote geskiet

Afrika se wilde honde op jag.
Een namiddag kom ek net om die hoek van ons huis en sien dat ’n klomp wilde honde die trop skaap wat net klaar water gedrink het, rond jaag en byt.
Ek skreeu vir ma en ons sien dit is sewe wilde honde wat die skaap so verskeur. Ou Gert die skaapwagter was oor die randjie en ma roep hom, maar niemand sien kans om nader aan die wilde honde te gaan nie.
Die trop skaap hol toe na die skaapwerf en soos dit hul manier is, byt die wilde honde groot hompe vleis uit die skape wyl hul weghardloop.
Toe dit begin donker word, vat die dikgevreete honde pad terug in die Kalahari in. Pa kom toe ook net tuis vanuit die veld waar al die mans besig was om ’n put te sink vir water. 
Die ander mans het daar agter gebly. Al hul wapens en ammunisie was ook daar by hulle, maar pa het sy geweer en vyf patrone saamgebring.
Die volgende oggend vroeg vat pa spoor agter die kwaaddoeners aan. So twee myl weg sien pa hulle onder ’n kameelboom. 
’n Honderd tree van hulle af klim hy self in ’n boom en wag tot twee wilde honde regoor mekaar is. 
Hy korrel versigtig en skiet altwee plat.
As ’n mens een wildehond kwes en hy begin tjank dan val die ander hom aan en dan veg die bondel onder mekaar. 
Vader skiet nog ’n skoot daar in die vegtende lot en word die gewoel minder soos hulle mekaar verskeur.
Eintlik was daar nog een wilde hond op sy voete en na pa hom ook geskiet het, nader hy die slagveld en die twee honde wat nog spartel, slaan hy met ’n dik tak dood.
Die wilde honde het 25 skape dood gemaak, maar so was ook die trop van sewe dood. 
As vader hulle nie doodgeskiet het nie sou hulle na ’n week weer terugkom vir nog ’n fees.

Die groot weghol vir inenting

Die inspuiter waarmee inentings gedoen was.
Ek was vier jaar oud toe vader in Suidwes (vandag Namibïe) ’n plaas gekoop het. 
Net voordat ons van Abiam na die plaas toe sou trek, kom daar een oggend vroeg ’n perdekar van Upington aan en word almal wat op twee voete loop daar by oom Hendrik se huis bymekaar geroep om teen pokke ingeënt te word.
Ons kinders staan soos ’n klompie slagskape buite en wag terwyl een na die ander die sitkamer ingeneem word. 
Ek luister so effens agterdogtig by die deur na die “eina-eina” daarbinne en besluit, nee, hierdie spulletjie is vir my nie en wys die sole in ’n westelike rigting na die lap drie-doring bosse oorkant die pad. 

Toe vader die nuus kry dat ek op vlug was, was ek al deur die drie-doring bosse en sien hulle my oor die duin verdwyn. 
Ek was op daai stadium nie meer so vinnig nie, maar het met so moë stadige draffie aangehou. Ek kyk nie om nie, maar toe ek opkyk sien ek vir pa van voor af na my kom.
Toe dink toe nie meer aan die doktor, maar soebat net asseblief tog dat pa my nie moet slaan nie. 
Vader het net gesê, en ek onthou sy woorde vandag nog, “Kom maar, die doktor sal met jou afreken.”
'n Plakaat vir inentings teen pokke in Oupa Ollie se tyd.
Ek moes sommer direk ingaan en vader vertel die doktor van my vlug. Die ou oom sê toe, “Boetie as ek so groot was soos jy, sou ek ook weg hol”.
Daar het ek die woord gehoor en nooit vir “weg hol” vergeet nie. 
Ek onthou ook die rofies was nog op my linkerarm toe ons van Abiam weg trek na Skanse, pa se nuut-gekoopte plaas in Suidwes Afrika.

Op ’n donkiewa deur die groen woestyn

Die donkiewa was die beste '4x4' in die vroë 1900s.  
Ons is oor die Oranje Rivier by Noenieput, wat ook die grens tussen Suidwes en die Unie was. 
Pa se beeste het by oom Hendrik agter gebly, wat toe nie oor die grens geneem mag word nie.
Dit was ’n swaar trek met twee families en ouma op ’n donkiewa.
Daar was nie paaie nie, net wa-spore. Soms het die donkiewa so in die sand vasgesit dat van die meubels afgelaai en vorentoe gedra moes word, tot die donkies die wa kon uitsleep.
Toe ons by Platbeen, die plaas voor Karasberge, ingaan, was daar baie kuile water in die rivierbedding en kon ons kinders nie daar uitbly nie.

Kinders swem in 'n vol rivierkuil na goeie reën.
Ek onthou nog baie goed hoe pragtig groen die berge was en die mooi groen doring- en olienhoutbome wat op die rivier se walle gedy het.
By Platbeen mond die Bakrivier uit op die gelyk vlakte wat aan die Karoo herinner. Die rivier het sy oorsprong bo in die groot Karasberge en kronkel tussen die berge tot op die vlakte. In die valleie het die bergvarings meters lank teen die kranse af gehang. 
Die grootmense het die welige gras met die sekel gesny en in bondels gedroog.

In oos-Europa word donkiekarre nog steeds insgespan om gras aan te ry.

Die bondels hooi was voer vir die perde en donkies wanneer daar skielik iewers ver gery moes word. So was daar in die somer tientalle sakke gras gesny en weg gepak en op die wa saamgeneem wanneer daar dorp toe gegaan was vir huishoudelike- en boubenodigdhede. Dan kry die donkies die droë gras vir die dag en nag wat ons op die dorp oorgebly het vir inkopies doen.

Waar die plaas Skanse sy naam gekry het

'n Foto van die klipmure, of skanse, wat die plaas se naam gegee het.
Nou ja, op die nuwe Suidwes plaas aangekom en het Vader en sy broer elk ’n voorlopige staanplek gekies. Net oos van ons tent was ’n groot berg vol plat los klippe, waarmee die Nama-stamme wat onder Hendrik Witbooi teen die Duitse invallers baklei het, krale en verskansings gebou het.
Die Nama-stamme het hulle self die Witboois en die Veldskoendraers genoem en hulle hoofmanne se klipskanse was voor die groot wit krans verder af gebou. 
Dis van die skanse dat die plaas sy naam Skanse gekry het. Hulle het die skansmuur gebruik om hulle perde en donkies in te hou, en so was pa en oom Tobie se sewe perde snags ook hier ingesit. 
Ek moes elke oggend die perde gaan haal en in die rivier laat drink en saans lot weer terug aanja na die skanse kraal toe. Ek was toe ’n vier-jarige kannetjie.

Een groot bobbejaan en een klein seuntjie met ’n swepie

A bobbejaan mannetjie blaf sy waarskuwing.
Een oggend kom ek by die skanse kamp aan en vind die perde het in die nag uitgekom. 
Ek sien hulle spore loop op die leë rivier bedding terug. Ek volg maklik die spore op die sand, en op elke draai van die rivier hoop ek om hulle te sien.
Vir ses myl (amper 10 km, of twee ure se drafstap) bly ek haastig op die spore met my kort beentjies en waar die pad deur ’n drif gaan met ’n diep watergat net regs voor ’n rots, kom ek meteens op ’n klomp bobbejane af. Die groot mannetjies storm my met oop bekke, lippe opgekrul en lang, geel slagtande reg om my te byt! 
'n Trop bobbejane drink water.
Die kleingoed skrik en lawaai vreeslik en slaan met die wyfies op die vlug. 
Hulle blaf dat die bulte eggo en gooi hande vol sand na my, maar ek staan doodstil. 
Toe een groot mannetjie darem te na aan my kom, laat los ek my swepie se punt en klap dit!
Die bobbejaan mannetjies retireer so ’n paar tree, maar storm my toe weer. 
My broek bewe maar ek beweeg nog steeds nie, behalwe om my swepie weer te klap.
'n Tipiese swepie wat met riempies gevleg was.
Die kleintjies en wyfies was toe al uit sig en die kwaai mannetjies besluit die klein mensie (ek was toe nog nie vyf jaar oud nie) is nie ’n bedreiging en volg hulle toe ook.
Ek staan nog vir ’n paar minute in my spore, my oë vasgenael op die rand van die rots waar die laaste mannetjie verdwyn het, en sien een se geel oge loer nog oor die kant van die rots.
Later beweeg ek rond om te sien of hy weer loer, maar hy is weg.
Ek slaak ’n groot sug van verligting en gaan weer aan op die perde spore. Net so half myl (800 meter) verder sien ek die perde langs die pad wei.
Ek beweeg toe na links in die rivier af tussen die bome om voor hulle te kom, want as hulle aan die hardloop gaan en sou ek hulle nie kon keer nie.
Laat middag kom ek eers met hulle by die huis aan, en was vader en oom net terug van hulle verkenning van die plaas verder op met die rivier.
Moeder was toe al baie bekommerd oor my en vader was reg om na my gaan soek.
'n Bobbejaan mannetjie met 'n wilde bokkie.
Later jare, toe ek al groot was en gesien het wat bobbejane met hul tande kan doen, het ek eers besef hoe gelukkig ek was om ongedeerd uit daardie konfrontasie met Kees se nasie te kon stap.
Van daardie aand af het pa die perde op ’n ander plaat gespan en het hulle nie weer probeer weg loop nie.

Duitse soldate op die plaas

Ek was vyf jaar oud toe England oorlog teen Duitsland verklaar het in Augustus 1914. Dit was die begin van die Eerste Wêreldoorlog en goeie bure was skielik vyande.
Ons was die 30ste dag die namiddag deur ’n vyftal Duitse soldate omsingel en hulle het ’n paar skote in die lug gevuur.
Net vader het ’n geweer gehad en die soldate het die roer met ammunisie en al van hom wegneem. 
Een van die soldate kon bietjie Hollands of Vlaams praat en beveel ons om ons nuwe plaas se tentkamp af te breek, op die wa te laai en na ’n internerings kamp te trek waar die Duitsers al die Unie se burgers gevangene kon hou.
Die interneringskamp wat by Aus opgeslaan was tussen 1915-1919.
Die trek het tot laat die aand aangehou en die volgende middag trek ons alweer verder sonder water tot op ’n plaas oos van Keetmanshoop, met die naam Kheinies.
Daar vind ons toe dat net al die nuwe intrekkers ge-interneer was.
Die vrouens en kinders met die ou mense het met hulle besittings en diere daar laer getrek, maar die mans was weg geneem om die gruispad van Aroab na Keetmanshoop te gaan bou.
My pa was ’n paar dae voor sy huwelik deur een van sy karperde op sy linker bors geskop en met ’n paar ribbers wat vermoedelk gebreek was, kon hy nie gebukkend werk sonder om baie pyn te verduur nie.
'n Skoppende perd.
Die Duitse soldate het niks omgegee nie en het vader met sambokke baie houe oor sy rug geslaan. Hulle het voorgegee pa wou nie werk nie. 
Een nag ontsnap vader, oom Tobie en oom Lewies Engels uit die kamp en vlug die Kalahari in. Die soldate kon hulle nie vang nie.
Die drie ontsnaptes loop deur nag om met hulle vroue in die kamp op die Kheinies plaas kontak te maak deur oom Floors. 
Oom Floors was deur die Duitsers in die kamp gelos om die diere te versorg. 'n Luitenant Hagen kom sê vir ma in die kamp dat die mans in die kamp opstandig geraak het en my pa per ongeluk doodgeskiet is. Hy sê niks van die ander twee nie.
Moeder, wat mos weet hy praat deur sy nek, sê toe vir ou Luitenant Hagen, “dan bring julle vir my sy lyk, ek wil hom self begrawe”.
Luitenant Hagen kon redelik goed Nederlands praat en dit het by my die indruk geskep dat hy hulle Bybel-man moes wees, want hy klink soos vader wanneer hy saans vir ons uit die Hollandse Bybel lees.

'n Nederlandse Statebybel waaruit saans vir die gesin gelees was.
Die volgende oggend vroeg neem moeder my saam toe sy ou Luitenant Hagen gaan spreek. Op pad vra moeder dat ek met niemand, nie eers my broer en suster moet praat oor wat ek hoor wat sy met Luitenant Hagen gepraat nie, want ons lewens sal in gevaar wees.
Moeder vra hom wanneer hulle pa se lyk sal bring, en Hagen se verskoning was dat in die geval van oorlog word lyke nie terug gestuur nie.
Moeder sê toe sy sal middag weer terugkom, en die luitenant maak nou nuwe verskoning, dat dit nie vader is wat gesterf het nie, maar iemand anders.
Moeder eis toe van hom pa se handtekening om haar te verseker dat hy wel nog leef.
Sy vra vir Hagen waarom vader soos ’n bandiet moet werk, want hy het geen misdaad gepleeg nie en ook niemand gehinder nie.

Ons ontsnap uit die interneringskamp

'n Stofstorm oor die woestyn.
Intussen het die drie ontsnapte mans en oom Floris alles agtermekaar gekry om met hulle families uit die kamp te ontsnap.
Die natuur speel toe mooi saam want net die volgende namiddag kom die suid-weste wind op met ’n allemintige stofstorm. 
(Later jare in die Tweede Wêreld Oorlog het ek weer so ’n stofstorm in die Sahara beleef.)
Ons kinders kyk grootoog hoe daar haastig ingespan word en al ons goed op die twee waens gelaai word. 
Die mense wat agterbly wou nie van vader hulle se waagstuk weet nie en ek hoor ’n tannie vir moeder sê, “San, julle waag nou julle lewens”.
In die stof en in die donker nag is ons uit die laer. Ons trek deurnag tot die volgende oggend so by 10 uur. 
Ons seuns stap agter die vee aan om hulle aan te jaag. Uitgespan die oggend vreet die honger trek diere gulsig aan die welige gras waar nog nooit mak diere gewei het nie.
Net suid van die waens was ’n groot duin. Ons is almal bang die Duisters agtervolg ons. Frikkie, oom Engels se oudste seun, gaan neem posisie in op die duin. Hy het ’n 7.92mm Mauser geweer met 76 patrone gehad en wou met elke patroon ’n Duitse soldaat afbring.
Die Mauser waarmee Frikkie Duitse soldate wou skiet. 
Die namiddag met die koelte span ons weer in en trek verder. 
Ek en ou skaapwager Gert moes intussen met die skaap en die los diere so wei-wei aanstap en ons was nou al amper ’n dag voor die waens. Een van die mans ry halfpad tussen die skaap en die waens om ons en die trop in verbinding te hou.
Daardie nag vorder die waens so dat hulle weer vir ons met die slapende skaap verbygaan. 
Ek lê daardie nag en luister hoe leeus naby die kamp brul en daar word eers vure aangesteek om die groot roofdiere weg te hou. 
Vader, Oom Lewis en Frikkie hou om die beurt wag, so ’n ent agter die waens en die trop skaap om die Duitsers in die nag af te skrik, sou hulle nog ons diep spore volg.
Duitse soldate op kamele. 
Maar ons hoef nie te gekommer het nie. Ou Luitenant Hagen het eers die derde dag na ons groot ontsnap opgemerk die laer wat die burgers van die Unie gespan het, lyk effe anders. 
Hy hou toe ’n telling en vind dat twee waens uit die interneringskamp weg is.
Nou moes Hagen eers ruiters amper 500 km oor woestyn pad na Windhoek stuur om te rapporteer en versterkings te kry, en dan weer vir die manskappe wag voor hy ons vlugtelinge kon agtervolg. 
Die heen en weer ry het amper drie weke geduur.
Na die oorlog het Hagen aan vader gesê dat hy ons vae spore met 10 soldate agtervolg het, maar die spore was toegewaai en hulle het sommer die tweede dag al opgegee en teruggaan Windhoek toe sonder ons.

Ons oorleef in die Kalahari

Die vyfde dag na ons ons groot ontsnap uit die interneringskamp, kom ons in die Kalahari by ’n ontsaglike groot kameelboom en die mans trek die twee waens daaronder in en begin uitspan.
Moeder gaan na die mans en vra, “wat doen julle nou?”
Vader sê ons gaan hier rus tot die namiddag koel word en dan trek ons weer verder.
'n Kameeldoringboom in die Namib woestyn.
Moeder sê toe “nou goed julle, span uit en wag vir die Duitsers. Net soos julle sal hulle maak vir hierdie koelte. Ek vat my drie kinders en gaan aan, en so ook die ander vrouens.”
Vader en die ander mans sien hier is g’n salf te smeer nie en die moeë trekdiere, wat toe al uitgespan was, word weer aangekeer en heel gou was ons weer aan beweeg, moeder aan die voorpunt.
Dit was toe seker soos hulle geskat het 11 uur en omtrent een uur kom ons by groot plaat kameeldorings.
Die waens word goed daar tusssen die bome ingewikkel en almal span uit.
'n Ossewa tussen die bome. 
Ek moet sê ek was toe al moeg tot in my hart, want al die pad weg van Skanse af het ek op my vyf-jaar-oue beentjies geloop om die skaap en los diere aan te dryf.
Daardie aand word daar kajuitraad gehou en kom die families eenparig ooreen, dat as die Duitse soldate ons agtervolg het, hulle ons nou al moes ingehaal het. 
Die slotsom is dat ons nou redelik aan die veilige kant moet wees.
'n Kraal van doringtakke.
Die namiddag word daar genoeg doringtakke gekap om die openings tussen die bome toe te pak sodat die trekdiere die nag gemaklik kan rus. Toe alles die volgende oggend nog veilig was, besluit die grootmense om die dag daar oor te bly.
Van die mans ry veld in om ’n bok te skiet vir die pot. Vroeg oggend kom hulle terug met ’n gemsbok se boude en blaaie op twee pakdonkies by die kamp aan. Daar word biltong gesny en ons maak baie vleis gaar om goed te hou.
Tsammas in die Kalahari Woestyn.
’n Groot tsammaveld word ook ontdek en ons poog om die water uit die harde pampoentjies te kry.
Ons drinkwater was in ’n ou petrol drom wat voor op die wa vasgemaak was.
'n 30-gallon drom.
Die drom had seker 30 gallon water (113 liters) gehou maar was nou al onder half. 
Tant Mieta het ’n groot soplepel gehad wat net deur die groot prop van die drom gepas het en elke namiddag het elkeen net sy een soplepel water gekry – net ’n halwe koppie vir die dag.
Daar was net genoeg water om die kinders 'n halwe koppie 'n dag te gee.
Vader en Oom Engels het elke dag vooruit gegaan, soms te voet, meestal te perd, om die omgewing te verken en geskikte plekke te soek waar ons oor die duine kan gaan. 
Die duine was van wes na oos en ons het reg noord getrek.
Dit was ’n moeisame proses want soms kon ons oor ’n duin gaan en anderkant moes ons weer ’n myl en soms tot drie myl weer Wes of Oos tussen die duine gaan om ’n oorgang te kry.
Die rooi duine in die Kalahari Woestyn. 
Pa-hulle het die oorgange aangedui deur net voor die duin ’n klomp gras op ’n bos te pak met ’n pylteken op die grond om aan te dui of ons links of regs moet gaan.

Hee om water uit tsammas te tap

Een namiddag het pa en oom Lewies daarin geslaag om met ’n paar Boesmans te praat. Hulle kon gelok word met ’n stukkie tabak. 
Later was die Boesmans al by die waens, maar pa-hulle kon nie daarin slaag dat hulle vir ons wys waar daar water te kry was nie.
Na ou Gert (die ou Nama van Pa) lank met hulle in die kliktaal van die Nama en gebare gesukkel het, wys hulle ons hoe om die water uit die tsammas te onttrek in ruil vir twee blokkies tamaryn-gegeurde Duitse tabak.
'n Blik Duitse pruim-tabak was beter as geld. 
Die proses was om die sand so ses duim diep oop te krap om die tsammas tussen kole en as te bak. Die gat word eers vol droë hout gepak en tot as uit te brand. 
Die tsammas word op warm as gepak. 
Sand word nou weer bo-oor gegooi tot die tsammas onder ‘n duim sand is. Oor die hele oppervlak word nou weer gou vuur gemaak om dit goed op te warm en so oornag te laat staan. 
Die volgende oggend word die tsammas uitgegrawe en in twee halftes gesny.
Die helftes word op ’n volstruiseier of in ons geval, ‘n koppie of beker, geplaas om leeg te drup. 
Een tsamma kan van ’n halwe tot ’n vol koppie water uitdrup.
Die leë tsammas se harde doppe kan ook as bekers gebruik word om nog water op te vang. Die doppe pas mooi in mekaar en vervoer maklik.
Nou het ons mense nie meer so dors gely nie, maar die trekdiere het nog steeds swaar gekry om genoeg tsammas te eet om hul dors te les.

Water vir vleis

Die volgende namiddag het Frikkie weer ’n gemsbok geskiet en ’n groepie van agt Boesmans mans staan verstom om te sien hoe maklik ons staal messe ’n bok se vel sny en die karkas in boude en blaaie slag.

Tipiese sakmesse wat boere in vroeë 1900s gedra het. 
Ou Gert het weer met hulle in gebare taal gepoog om te vra waar daar water is, want hy weet daar moet iewers genoeg water wees as die mans so in klompies loop. 
Hulle families sal ook nie ver af wees nie.
Die klompie het nou al nader na die waens gekom. 
Die mans verstaan uiteindelik Gert se waars-daar-water gebare en hulle beduie hulle sal ons die volgende dag na water neem, mits hulle ook vleis kan kry. Dit meen nie ’n blad nie, maar ’n hele groot bok, wat die groep Boesmans in een aand tot op die been op eet.
Die volgende oggend vroeg trek ons wes, terwyl oom Engels, Pa en Frikkie al vroeg te voet weg is met die Boesmans, maar nou half terug in ’n noord-westelike rigting.
San jagters, oftewel Boesmans, wys wildspore na water in die Kalahari. 
So 2,5 myl (amper ’n uur se stap) merk die mans op dat baie wildspore in rye na een rigting gaan en ook weer terug kom, wat ’n sekere teken van water is. 
Hulle kom toe op ’n pan water af, maar dis amper meer modder as water. Hulle gaan toe terug om die trek effe nader aan die pan te laat kom. 
Na hulle uitgespan het, het hulle die diere na die water geneem en het oom Lewies en Frikkie vir die boesmans ’n wildebees gaan skiet.
Die diere het swaar aan die modder water gedrink maar was weer vol toe hulle terugkom. 
Laat die namiddag het die Boesmans vreeslik gesing en fees gevier. 
Almal van ons het op ’n duin uitgeklim en sien toe die Boesman mans se vrouens en kinders het begin braai en dans. 
Die mense sien ons op die duin en twee van die oudstes kom nader en beduie ons groep moet nader staan. Die mans en van ons kinders gaan toe nader. Die wildebees was toe al byna verslind. 
Dit braai, eet en dans, klap hande met eentonige sang deuntjies. 
Wat my opgeval het was die aantal volstruiseierdoppe waaruit al die Boesmans om die beurt water drink.
'n Volstruiseierdop vol koel water word om die vuur gedeel. 
Ons het die volgende dag nog daar oorgebly om die trekdiere nog van die modderwater te laat drink. Die oggend toe ons vertrek bring twee van die jong boesmanvroue en drie mans vir ons 10 volstruis eierdoppe vol helder reënwater.
Moeder en tante maak dit toe leeg in ’n klein vaatjie en gee hulle doppe terug met twee blokkies tamaryn twak.
Van die mans het ons op ’n afstand gevolg en toe ’n trop blouwildebeeste weer mooi onder skoot was, skiet Frikkie een en beduie aan hulle dat dit vir hulle was. 
Met dankbaar gebare hardloop hulle toe daar na die dooie bok, maar een van die mans hardloop dadelik weer terug om die res van sy groep te gaan roep.
'n Diagram wat wys waar om 'n Blouwildebees in die hart te skiet. 
Ons het aanhou trek in ’n noordelike rigting om by die landsgrens tussen Suidwes en die Unie uit te kom en ons moes nou weer oor die hoë duine beweeg, dan links dan regs.
Skadu bome was min en die son bak. 
Ouma was naderhand baie swak van die warm son en wind en die grootmense was bekommerd oor haar.

Leeus heeltemal te naby

Een namiddag, terwyl die waens doer ver stadig om ’n sandbult beweeg, klim ’n paar van die boerbokke in my sorg ’n duin uit om die baie gemsbok-komkommers wat daar gegroei het, te eet.
'n Gemsbok-komkommer
Ek loop seintoe om hulle weer aan te keer, toe daar meteens twee tamaai groot leeus en twee welpies van die anderkant om die duin se voet aangestap kom.
Bo op die duin is die bokke dors en honger en smul hulle so aan die komkommers dat hulle nie eers die leus nie gewaar nie. 
Van skrik bly ek versteen staan, nes die keer toe die bobejaanmannetjies my so gestorm het. 
Die leeus was so naby, ek kon die skurfgeit aan die een se tong sien toe hy sy baard skoon lek en die stukkies geel slaap wat nog in sy oë sit.
Die twee groot leeus beweeg rustig weg van my af na ’n paar groot besembosse, staan toe effens rond en plof daar neer in die koel namiddag skaduwee.
'n Leeu-mannetjie poog rus wyl sy welpies hom pla.
My voete raak toe ook los van die aarde en ek beweeg stadig weg, met my oë vasgenael op daardie leeus. 
Al wat ek kon dink is laat hulle tog aan die slaap raak asseblief tog... Maar nou verwonder die twee welpies hulle aan die mens ding wat so stadig weg beweeg.
Twee nuuskierige leeu-welpies.
Die kleintjies waag ’n beweging na my, maar ek hoor ’n dowwe waarskuwing van die of pa of ma en die welpies draai gehoorsaam terug en begin met mekaar onder ’n ander besembos speel.
Die hele tyd onthou ek my oom se waarskuwing aan ons almal, om in sulke omstandighede nie te skreeu van skrik of te probeer weg hardloop nie, want roofdiere se jag instink skop in as prooi beweeg.
Ek was daai dag weer gelukkkig, want die twee ou grotes het seker aan ’n prooi onder die dik basse anderkant die duin gevreet en van ledigheid net kom kyk wat hierdie kant aangaan.

Veldkos

So het ons vir nog ’n paar dae aangesukkel na die Unie se grens toe. Saans moes elkeen vir hom of haar tsammas bak en word ons vleis saam met die sagte vesel van die tsammas gekook, wat natuurlik ook as groente gedien het en so skeerbuik verhoed het.
Met die aanjaag van die los diere het ons heeltyd gesoek vir kambro, ’n groot knolplant so vol water sy ander naam is hottentotswaatlemoen. 
As ons die stingel onder die bossies sien grawe ons die groot bol met ’n skerp stok uit. Saans word dit bol onder kole gebak en proe die styselryke wortel soos ertappel.
Die Kalahari kambro se wortel proe nes ertappel.
Ons het ook komkommers versamel vir nog bykos. Mens raak vreeslik lus vir groente as jy meestal net sout vleis kry om te eet!
Dan was daar ook ’n bietjie bokmelk van ’n paar ooie wat met die trek gelam het. Ons moes die boklammertjies net daar keel afsny, maar die klein skapies het ons gedra tot hulle ’n dag en ’n nag oud was, dan kan hulle die volgende dag sterk loop.
'n Dogtertjie dra 'n skaap lam. 
Na ons besluit het die Duitsers agtervolg ons nie meer nie, kon ons stadiger trek en was daar tyd gemaak om die lammertjies te laat aan sterk en kon ons die swakste bokkies in die hoenderhok onder die wa sit om sterk te word.

Op soek na die Unie se grens

Op ’n dag, so amper middag, kom die verspieders wat te perd vooruit gery het haastig terug. 
Hulle vertel hulle het die Auab Rivier gesien, maar maar dis nog ver en ons sal onder ’n paar kameelbome so half myl verder moet gaan uitspan.
Die volgende dag was die afgaan in die rivier goed beplan. 
Die grootmense is bang ons gaan hier, na al die ontberinge, in ’n Duitse patrollie vasloop.
Maar daar was geen spoor van patrollies en daar word besluit om nog ’n dag te wag om seker te maak.
Die derde dag moes die trek nog twee myl verder ooswaarts gaan om by ’n geskikte plek die wal af te gaan, waar daar ook twee groot modderige waterpoele in die rivier was.
Ons was vroeg die namiddag in die rivier, wat vir almal ’n nuwe belewenis was. Die dors diere het proe-proe gesukkel om van die water te drink. Ons drinkwater was teen die tyd beperk tot die kleinste kinders en ouma.
In die rivier bedding was daar nie tsammas nie. 
Die waens was die aand nie ver van die poele en daardie nag raak die donkies en beeste so paniekerig dat hulle onder die waens inkruip en die skape maak ’n bondel met die ramme buite.
Die grootmense vermoed daar was leeus wat kom water drink het. Ons het ook die gehuil van wildehonde en hiënas gehoor. 
Later het die diere bedaar en die volgende oggend het leeu spore bevestig dat hulle daar was, maar hulle het ons nie gehinder nie.
Die knipmes wys die groootte van 'n leeu se spore.
Vir ’n lang tyd voor ons vertrek die volgende oggend, het al die grootmense eers beraadslaag of daar na wes of oos getrek moet word. Ons was nou in die geweste van die Rietfontein en Mier plase. Die grootmense het vermoed dat die oosgrens van Suidwes aan die Kaapprovinsie nog gepatrolleer sal word en dit moeilik sal wees om daar oor die grens te kom. 
Maar trek ons wes, mag die konsentrasie van Duitse magte ons weer ontdek.
Maar dit kon ook wees dat die swaarste magte eerder binnelands sal konsentreer as op die grens. Vader was bekend met ’n groot deel in die omgewing, want hy jare gelede vir weiding met sy boerdery van Gemsbokholte na Rietfontein en Mier getrek.
Hy meen met behoorlike verkenning kan ons daar deurkom. Die grootmense stem in dat daar ooswaarts oor die grens getrek moet word en vader ry saam met oom Engels om te gaan verken
Ons trek nou al langs die harde rivier bedding, en dit was amper ’n luukse gevoel na weke se worstel met die trekdiere en waens oor bosse, miershope en erdvarkgate. 
Die waens was nie swaer gelaai nie, maar die diere het heeltyd swaar moes beur deur die sand. 
Op die waens had ons net die nodigste kookgoed soos potte en veldstoeltjies, met van die vrouens en kleiner kinders wat ook op die waens gery het.

Boorgat vol vrot rieme

'n Boorgat in die woestyn.

Na die trek nou weer ’n paar dae aan die gang was, kry die verkenners eendag ’n boorgat in die rivier. Gou was vasgestel dat daar wel water in was, maar hoe dit uit te kry was amper onmoontlik.
Osrieme word stewig aanmekaar gebind om net eens die diepte te bepaal.’n Langwerpige blikemmertjie wat in die die gat pas, met ’n swaar kalkklip daarin, word laat sak.
Die klip laat die emmer onder die water sink en daar kom die eerste water op.
Maar wat ’n teleurstelling toe dit in ’n skottel uitgegooi word. Dit het so vrot gestink dat mens dit op ’n afstand kon waarneem!
In die blik beker was ’n mengsel van gemsbok hare en ou vel. Na nog ’n paar pogings word die mengsel wat opgetrek word, al hoe slegter.
'n Gemsbok wat van dors gevrek het.
Oom Tobie wou weet of die water vars of brak is en sit ’n sakdoekie oor die mengsel en suig met ’n lang lip die water daardeur en sê toe, afgesien van die vrot velle in die water, is dit water vars.
Hy meen die boesmans het ook die water probeer uitkry met hulle rieme, maar het die spul laat inval, waar dit na dese nou so gevrot het.
Teleurgesteld word weer ingespan en gaan die trek aan. Ons drinkwater het nou kritieke afmetings bereik en in die droë rivier bedding was daar steeds niks tsammas te vinde nie. 
Die wilde diere wat in die rivier kom brak soek, eet al die tsammas op.
Volstruise hardloop oor 'n droë rivierbedding tussen steil sandwalle.
Die verkenners ry wyd op soek na tsammas. Die grootmense het al begin oorweeg om maar weer die rivier te verlaat en deur die duine te trek. 
Almal se klere en liggame was nou al afstootlik vuil. Die moeders kon darem nog altyd met bietjie tsamma water ’n lappie natmaak om hul kindertjies se vuil gesiggies skoon te maak.
Soggens begin ons dors en saans gaan slaap ons nog dorser op ons bok velletjies.
Maar die diere is so swak hulle kan nie meer die waens teen die rivier walle uittrek nie, so dit was onmoontlik om die rivier te verlaat en weer die sand aan te durf vir tsammas.
Die verkenners kan nou ook nie meer te perd uitgaan nie. 
Hulle soek toe noord vir ’n groot hoeveelheid tsammas en daar vind hulle toe ’n groot veld, waar die pampoentjies een teen die ander lê. 
Daar word toe nog ’n paar myl verder aangesukkel met die magtelose trekdiere tot ons regoor die tsammaveld was.
Daar uitgespan word die diere almal na die tsammaveld gejaag. 
Die groot diere kan die harde skil stukkend byt, maar die skape sukkel baie en moet ons met messe die tsammas in twee halwes sny.
Ons wagters moes daar bly om die diere op te pas, terwyl die ander mense gate maak om tsammas te bak. 
Die volgende dag het ons nog daar oorgestaan sodat die diere genoeg water in hul liggame kry om weer ’n paar dae te kan hou. 
Die moeders kan ook weer hulle kinders se gesiggies skoner kry en was almal vir mekaar ook weer mooier.
Vader en oom Engels het die dag ver gaan verken om nog ’n tsammaveld te vind en hulle het die aand laat teruggekom en vertel ons moet die volgende oggend vroeg begin om die aand regoor die volgende veld tsammas uit te span.
Daar het ons weer oorgestaan terwyl die verkenners weer die dag uit was. Hulle perde was nou ook al uitgeput want hulle kry nie genoeg tyd vir tsammas vreet nie.
Volgende oggend is hulle weer uit en ek onthou nog dat Pa vir Moeder sê, “As ons vanaand nie terug kom nie, dan sal ons nog verder soek, want ons kan hierdie veld nie verlaat as ons nie weet waar ons volgende water sal wees nie”.
Dit was ook so. Hulle was die volgende namiddag laat eens terug en was dit twee dae se harde trek na die volgende tsammaveld. Maar daar het seker miljoene gelê het. 
Die rankies onthou ek, was alles al droog.

'n Groot veld tsammas.
Daardie veld was so groot en dig begroei dat ons tot diep in die veld vol ronde pampoentjies kan intrek voor ons uitspan, met die tsammas wat knars onder die wiele.
Daardie aand sê pa toe dat ons, volgens die grondstruktuur, nou in die noordelike grens van Mier se gebied is.
Hoewel die tsammas van toe af nie weer in so groot hoeveelhede te vinde was nie, kan die diere darem elke dag ’n paar kry om te eet. Ons trek nou rustig, want die grootmense voel veilig so naby die Unie se grens.

Ons kry die grens

Stadig maar seker het ons elke dag verskuif, maar die afstand was elke dag verder as toe ons deur die duine gesukkel het. In die begin was daar ou wa- en karspore in die rivier, maar hier was daar geen spoor van ander mense nie.
Blykbaar het die grenspatrollies nie sover noord gery nie. Soos ek vandag die kaarte van daardie gebied sien, moes ons nou al die Gemsbokpark genader het.
Een aand kom die verkenners terug en rapporteer dat hulle die grens bereik het en dat daar patrollie spore is. 
Vir die volgende dae wou hulle kyk word watter tye die patrollies verbygaan, en hetsy hulle noord of suid ry. 
Ons durf nie waag om die grens oor te steek net om in ’n patrollie vas te loop nie. Ons moes wag vir een om verby te gaan en dan agter hulle oor die grens te glip. 
Maar die patrollies is ongereeld en die verkenners wag dae sonder om enige ander mens te sien.
'n Gemsbok wei saam met 'n wilde perd in die Namib Woestyn. 

Die gewag vat so lank dat ons die waens later moes verskuif na nuwe tsammavelde, verder weg van die grens af. 
Na dae se wag en skuif after tsammas aan, was dit besluit dat die waens moet na ’n sekere punt skuif, vanwaar die patrolliestrook dan sal oorgesteek word, waar daar ’n tsammaveld nie so ver in die Kaapprovinsie se kant is nie.
Die verkenners was in die proses al oor die grens om vas te stel waar die naaste mense aan anderkant is. Vir seker drie of vier dae moes alles so gereed gehou word dat die trek op kort kennis ingespan en aan die beweeg kan kom. 
Dit was oor ’n effens gruiserige harde gebied. Seker so verkies, dat die trekdiere die vragte vinniger kan oortrek.
Ek self het gebrand van nuuskierigheid om die patrolliebaan te sien. Maar dit was eintlik teleurstellend, net twee perdespoor paadjies waar die ryperd en pakperd langs mekaar geloop het.
'n Tweespoor-pad in the Kalahari.

Terug in die Kaap kolonie

Oupa Ollie se super talent was dat hy nooit verdwaal het nie. 
Ons het die volgende oggend voor sonop ingespan en net toe dit lig word, was ons oor die patrollie strook en terug op Kolonie grond.
Daardie dag trek ons so vinnig as moontlik en die aand span ons uit by genoeg tsammas. Die heel nag was die diere losgelaat om te wei en was vure ver weg aangesteek om roofdiere uit te hou. Dagbreek die volgende oggend was ons alweer aan beweeg. 
Vandat ons die grens oorgesteek het, was Oom Engels en Frikkie met die Mauser nou agter om ’n moontlike agtervolging van die Duitsers af te weer. 
Hulle het ook ver agter gebly met die perde en vader het alleen vooruit gegaan om die verkenning waar te neem.
Na ’n paar dae was die gevaar verby en mik ons nou suid-oos. Nie al die kinders het geweet van suid en oos of noord en wes nie, maar ek het nooit verdwaal gevoel nie. 
Later in my hele lewe ontdek ek nie almal soos ek altyd presies weet waar hulle is in vergeleke met hul bestemming nie.
Ek meen dis omdat ek so in die natuur groot geword het dat ek so rigtingvas was. Ek het altyd geweet waar die vier windrigtings was en kan vandag nog na ’n plek gaan sonder pad of kompas, as ek net eers weet in watter rigting my bestemming is.
Britse verkenners op patrollie in die Sahara Woestyn tydens WWII.
Ek moes by Zonderwater leer kaart lees voor ons soldate vir die Tweede Wêreld Oorlog na noorde Afrika toe verskeep was om daar in die Sahara Woestyn saam met die ander “Allies” te veg teen die Duitsers wat deur generaal Rommel gelei was.
In die enorme Sahara waar alles gou dieselfde lyk, kon ek enige plek rondry sonder die gebruik van ’n kaart of kompas, en was ek nooit verdwaal nie.


Put vol heerlike brak water

Unie soldate kom te perd aangery. 
Die trek het nou stadiger gevorder om aan te pas met die kragvermoë van die moeë trekdiere. 
Waar die veld en tsammas dit toegelaat het, het ons vertoef om die diere te laat aansterk. 
Daar was ook nou al ’n groot aantal skaaplammertjies wat moes groot word om weer die kuddes weer aan te vul.
Een aand terwyl ons om die vuur sit, deel pa ons mee dat ons nou naby Rietfontein moet wees. 
Twee aande later sê pa dat as als goed gaan, sal ons die volgende oggend weer by ons mense wees.
Die volgende oggend het die trek seker net so ’n uur geneem toe ons by ’n put kom met ’n katrol om ’n emmer water op te lig. 
Dit was een van die putte wat boere gemaak het toe hulle daar vir hulle diere weiding gehuur het.
Die water was brak, maar mens en dier het dit geniet. 
Daar kon ons vir die eerste keer in maande was en skoon maak. 
Vader het die omgewing toe al herken en was ons die volgende dag op Witdraai waar die Unie-troepe ’n groot kamp en voorrade gehad het.
Toe hulle ons trek sien aankom, het ’n paar soldate ons tegemoet gery en ’n kordon om alles gevorm. Die mans moes uitgaan daar na die kamp en was dit ure en ure om te verduidelik wie ons is, waarvandaan ons kom en gaan.
Varsgebakde brood is hoe beskawing proe.
Daar was toe ’n terrein aangewys waar ons kon uitspan en wat was dit wonderlik toe ons daardie aand nie weer tsamma-kos eet nie en weer weer kon proe hoe smaak brood! 
Daardie brood het vir almal soos beskawing geproe.

In die woestyn gevorm 

Davignab is vandag 'n gehuggie 60km noord van Ariamsvlei.
Na al die maande kon ons die eerste nag weer rustig slaap. Daardie aand was boekevat ook anders. Van die dankbaarheid wat so opvallend is, is dat ons mense en diere nooit deur roofdiere gehinder was nie. Nie eens ’n jakkals het het ’n lammetjie gevang nie.
Vir al ons veiligheid was dit maar net die beskerming van ons hoër hand waarvoor elkeen net kan dankie sê. 
Ek was toe maar 5 jaar oud, maar onthou alles soos gister.
Die swaarkry het nie net tot in my murg ingedring nie, maar het in ’n my brein vasgegroei. Die aanhou tot daar uitkoms en redding is was weer so verblydend, dat dit ook ’n vasstrap in my denke gekry het en kon ek later met enige moeilikheid deurdruk, want ek weet, ek was as klein seuntjie deur baie erger.
Intussen was net vaagweg bewus daar is ’n oorlog in Europa en ons het nie geweet wat die posisie in die Unie was nie, en of Suidwes, waar ons burgers was, daarby betrokke was nie. 
Eers in die kamp op Rietfontein was ons meegedeel van ’n rebellie in die Unie en dat Unie-troepe in die Noorde besig is om die beheer oor Suidwes te kry.
Weiding om die kamp was baie swak en ons moes die vee ’n paar myl weg trek. Pa-hulle het om die beurt ’n nag en ’n dag by die vee gebly, en altyd bietjie bokmelk teruggebring.
Gedurende hierdie tyd het ouma se gesondheid baie verswak en het sy ’n gesigkwaal ontwikkel. In die kamp was daar ’n dokter wat na ouma kom kyk het en sy kommentaar was dat sy kanker het en dat daar vir haar niks meer gedoen kan word nie.
Ouma was nog altyd baie geduldig en het gereeld die salf van dokter aangesit en haar gesondheid het so verbeter ons was seker sy was genees. 
Verder het nie een van al die vlugtelinge siek geword nie.

Einde van een oorlog

Na ons ’n paar dae daar gekamp het, kom daar een oggend twee motors aan, elk met ’n groot blik wat agter sleep en raas. Toeters lawaai saam met die blikke. 
Hoe telefone in 1915 gelyk het. 
Hulle bring toe van Upington die tyding dat die Duitsers oorgegee het en nou onder beheer van die Unie is.
Nou was alle vrees verby en kon almal gerieflik asemhaal. Dit was 1915 en daai jaar het Suidwes so baie reën gekry dat die Brakrivier sy walle oorstroom het en groot pan water gelos het, waar ons kon uitspan.
Die Visrivier in vloed met Schlangkopf in die agtergrond.
Ons het op Gansvlei gebly tot albei die mere opgedroog was en toe oorgetrek na Davignab vanwaar ’n tweedraad telefoon met Aroab in verbinding was. 
Davignab was ’n Duitse militêre basis so 60 km noord van Ariamsvlei. Dit was die eerste telefoondrade op ysterpale wat ek gesien het.
Die rede waarom ons nog nie na Skanse vertrek nie, was omdat ’n skelm prokureur, Richard Steyn, van wie vader die plaas gekoop het, die oorlog as verskoning gebruik het om die koop te gekanselleer. Vader was toe weer na oom Willie van Coppenhagen op Upington vir advies en hy sê toe dat pa die plaas so spoedig moontlik moet okkupeer, en om die kwitansie te bewaar, want dit was al bewys dat pa die plaas gekoop het na die skelm Steyn al die koopbriewe vernietig het.

Ysbaddens vir sinkinkoors

Ysbaddens is baie goed vir seer spiere.
Gedurende die winter wat ons op Davignab gebly het, het ek rumatiekkoors (of sinkinkoors, soos dit destyds bekend was) in my linkerbeen gekry en was my knie so krom getrek dat my voet teen my linkerboud gedruk het. 
Vandag weet ons rumatiekkoors begin met 'n seer keel wat deur die bakterie Streptococcus pyogenes veroorsaak word. 
Dit gebeur met net drie persent van mense wat so strepkeel opdoen.
Mense wat ook van Upington in Suidwes ingetrek het, gee toe die raad dat pa my elke aand vir 15-20 minute in ’n bad koue water moet laat lê en dan in ’n kombers toedraai tot ek weer warm is en die volgende oggend voor sonop moes dit herhaal word.
Die Namib woestyn word saans so ysig soos wat dit bedags snikhete warm is, en soggens was daar ’n laag ys op die water wat pa stukkend geslaan het en ek dan tussen die stukke ys moes insink.
Na ’n week van hierdie behandeling het my been weer reggekom en kon ek weer normaal loop.

Terug na Skanse

'n Tipiese tentkamp in die vroeë1900s.
Vroeg in die nuwejaar 1916, twee jaar na die vyf Duitse soldate ons interneringskamp toe gedwing het, het ons terug getrek na pa se nog nuwe Skanse.
Dit het ons amper twee weke geneem om weer op Skanse te kom. Die rivierpad was erg verspoel en daar moes weer pad gemaak word. Maar die berge was lowergroen van die baie reën en die twee broers kon begin om hul skaaptroppe te vergroot.
'n Skaapooi met 'n tweeling lammers.
Voorlopig het pa weer die seil tent opgeslaan, presies op die plek toe ons in 1914 kamp gemaak het.
Die ooie het goed gedra en die skaap getalle het merkwaardig toegeneem. Hoewel die pryse uiters laag was – ek onthou ’n twee-jaar oud hamels het maar vir 6/-, 7/6 verkoop – was daar genoeg inkomste dat die broers kon begin sement bestel om te bou op die plaas.


Ek begin my eie trop

'n Seun voer 'n opgeskote boklam met 'n bottel. 
Oom Nols van Niekerk het, net oorkant die rivier waar ons die skape deurgejaag het, kom woon op veld wat hy van oom Koos Shepherd gehuur het.
Toe die ses maande huurkontrak verstryk was, besluit oom Nols om weer terug te trek na Davignab. 
Boklammertjies klim op alles. 
Ek het vir die twee maande wat ek oom Nols se lammers opgepas het, twee hans boklammers as vergoeding gekry, wat ek met ’n bottel moes groot maak. My twee ootjies se nasate het vinnig gegroei tot ek oor die honderd bokke had. So het ons mekaar gehelp en almal het vooruit geboer.

Platbeen verdwynings

Toe oom Nols aankondig hy trek terug Davignab, wou sy skaapwagter, Piet Boesman, eerder agterbly. 
Hy vra toe my pa en ma of seun Piet by ons kan bly tot hy self van Davignab terugkom, want hy sou net vir oom Nols tot daar help. 
Piet was ’n paar jaar jonger as ek, seker so vyf, maar kon net Boesman praat.
Ek het by klein Piet heelwat van die Boesman se klik-taal leer praat sonder enige vreemde aksent.
Ou Piet het soos beplan na ’n maand van Davignab sy terugreis Skanse toe begin maar die laaste wat mense van hom gesien het, was toe hy by Platbeen die poort in die Karasberge ingegaan het.
Ou Piet het nooit op Skanse opgedaag nie en ons kon nooit sy geraamte opspoor nie. 
Net so het by Platbeen een van die Lourens broers van Kais ook verdwyn en nou al oor 50 jaar nog niks van hom gehoor of gekry nie.
Piet bly toe maar by ons en moeder versorg hom ook as kind en het ons twee gou maats geword en saam skaap opgepas. 
Wanneer daar goeie reën was en die veld groen geword het, moes ons met die lammerooie in die veld bly, soos wat jong seuns in Lesotho vandag nog doen.
Jong skaapwagters in Lesotho.
Vir skuiling wanneer dit reën, vlug ons net onder ’n hangkrans in. So het ons twee en Klaas van oom Tobie by die Lelike Voetpadnek gaan bly en later weer by Muishondnek (Die Boesman naam is “X!eidous”) met ’n tongpunt klap op die X!.
Hier het ons seuns in begin 1917 met twee klompe lammerooie en bokke gebly. 
Die veld was pragtig groen met diep kuile water in die rivier. Dit was tye waarna ek vandag terugverlang.

Ons grawe put

'n Man praat met werkers wat 'n water put dieper maak.
In die lente 1917, toe ek agt jaar oud was, het pa en ek met ’n klompie gereedskap gestap om ’n put te gaan grawe waar oom Jan Goewerment het met sy mikstokkie vir ons water aangewys het.
Ek het vyf bokooie met eenling lammers aangejaag sodat ons darem melk kan hê terwyl ons die put uit grawe. As die water sterk genoeg was, was die plan om die huis daar te bou.
Indiese kinders melk 'n ooi terwyl hul honde bedel vir 'n slukkie.
Pa het die eerste grond die namiddag begin los pik. Ek moes dan met die swaar ou Duitse skopgraaf die los grond begin uitwerk. 
Ek kon ek die vol graaf oplig nie, maar het die graaf gesleep en op die kant van die put omgetiep.
Toe pa sien hoe naby die rand ek die grond gooi, sê hy ek moet dit verder moet wegsleep, anders sal die grond weer terug val as die put dieper en die hoop grond hoër word. 
Dieselfde les geld vir wanneer jy jou vrese en probleme uit jou kop opdiep: Sleep daai gedagtes ver uit jou kop, anders gaan jou probleme net weer terugval en jou gedagtes oorweldig.
Twee boklammers wag vir hulle ma.
Die vyf lammers het ons soggens in ’n kleinerige grot toegemaak terwyl die ooie naby wei. Saans was die ooie vasgemaak en kon hulle lammers suip en by hulle slaap.

Daar's water!

Samsong windpompe werk nog steeds in suider-Afrika.
Wat was ons blydskap toe ons na nege dae se grawe nat kleigrond sowat 12 voet diep (3,6 meter) onder die droë sand kry. 
Op die 10de dag begin helder water deur die grond sypel. Die gat was net raps oor die myl van die tentkamp af en daardie aand sê pa vir my om daar bly en alles op te pas terwyl hy terugstap om vir moeder die goeie nuus te gee dat ons sterk water gekry het en sommer vir ons kos terug te bring sodat ons verder aan die put kan werk.
Dit was opwindende nuus en die volgende oggend het oom Tobie saam met pa aangekom om die nuwe put te sien. 
Daai aand het ’n sterk bui reën op die buurplaas, Narubis, geval en die rivier laat loop. 
Die water het tot by die blou klipkuil gekom en pa stop toe eers die put werk om die een trop skaap tot by die Bobbejaankop se kuil te skuif, wat maar net een en half myl van ons was.
Oom Tobie het toe twee dae gehelp om die put ’n ent dieper in die water te sink. Nou was alles gunstig om die hele familie byeen te bring.
Pa reël met oom Floris om vir ons ’n huis te bou sodra hy met die werk op Klipdam by die skool klaar was. Intussen word die put ingerig sodat ons kan drinkwater uittrek en ’n sink-krip word naby gegrawe om die paar koeie te laat suip.
Toe oom Floris terugkom het hy pa gehelp om die tent kamp van ou Skanse na die nuwe put te skuif. Die tent was eerste opgeslaan en ek onthou nog so goed hoe pa die vloer met ’n klomp skaap en bokke laat vastrap het.
Die vloer was toe glad afgewerk en het ma dit altyd so blink gevryf, ek meen daar was lynolie ook aan gesit. 
Toe die tent kamp langs die put ingerig was, het die klip kap begin. Ek en pa met ’n koevoet, pik, graaf en 12-pond (5 kg) hamer begin om klippe te breek vir die huis en dan op hope te stapel waar oom Floris die fondasie slote begin grawe het.
Om die water makliker op te trek, het pa en oom Koos Shephard elk ’n Samson windpomp en ’n klomp sakke sement bestel. Die klomp sakke sement en lang, swaar ysters is met twee ossewaens op Ariamsvlei gaan haal. Nou was die werf ’n miernes van woelery.

Papier oorlog gewonne


'n Geld noot van die Unie van Suid Afrika. 
Intussen moes pa weer na Upington reis vir die oordrag van die plaas in sy papier oorlog met die skelm Richard Steyn, wie ons van Skanse wou afsit. 
Oom Willie van Copenhagen stuur pa se probleem oor na prokureurs Olivier en Olivier in Windhoek, sodat hulle daar met Steyn persoonlik kan onderhandel.
Dit was ook nie lank nie of daar was ’n hoër hof saak en vader moes ₤900 deponeer vir die advokaat om met die saak aan te gaan. 
Dit was groot geld en pa reël toe met oom Jan Celliers – ’n lewende hawe spekulant – om pa se diere te koop.
Die plaasskool word vir ’n onbepaalde tyd gesluit en op die bepaalde dag was al die skaap op die plaas saamgebondel. Na oom Jan al die half mak diere, skaap, bokke, bees en perde deurgekyk het, maak hy vir pa ’n aftelprys.
Ek sal nooit vergeet nie dat een trop skaap was al in die kraal, sodat oom Jan die diere wat hy wou hê, kon uitkeer. Toe vra pa met die woorde, “Jan laat ek van hierdie trop net 50 dragtige jong ooitjies, 50 van daardie gemsbokooie vir slagvee, vyf verse en twee koeie en my ryperd uithou en dan tel ons die res af teen jou prys”.
Oom Jan stem toe so in. Na die tellery en berekening kry pa toe or die ₤1200 uit.
Dit was vir my hart verskeurend om die volgende oggend te kyk hoe pa nog moes help om sy hard-verdiende boerdery van die plaas af te help aandryf na Langklip, oom Jan se plaas.
Toe moes pa na Windhoek reis. 
Pa het die daak so ernstig opgeneem dat hy nie net met een perd Windhoek toe gery het nie maar die bokkiewa gevat en vier ryperde – syne, asook die van oom Tobie, oom John en Fritz Ziegler ingespan het om seker te maak hy kom by oom John in Keetmanshoop. Daarvanaf het pa toe met die trein na Windhoek gereis.

'n Bokwa het staal aste en bladvere gehad om gemakliker te ry.
Oom John het die bokkiekar en perde opgepas totdat pa van Windhoek af terugkom het.
In Windhoek aangekom, slaag Advokaat Olivier toe dat die saak oor 12 dae op die hof se rol te kry. Pa het ’n sterk saak gehad. 
Hy het die kwitansie vir ₤900 wat Steyn aan hom uitgemaak het toe hy die plaas betaal het, asook as getuie oom Andries Blaauw, wat in 1914 saam met pa vir Steyn gaan sien om die plaas Bakrivier te koop.
Windhoek stasie in 1917.
Die oggend met die aanvang van die hof, stap pa en Steyn saam die trappies op, en pa draai na hom en sê vir hom, “Steyn ek wil jou net dit sê, die een van ons twee wat hierdie saak verloor, sal kaal hier uitkom”. 
Die klag teen pa was dat pa sy eiendom “wederegtelik”, dit meen teen die wet, in besit geneem het en bewoon het.
Vir vyf dae het die slu Steyn oor en weer geredeneer en beskuldig en pa sê dat hy op ’n stadium begin twyfel het dat hy die saak kan wen, maar toe pa se advokaat Olivier vir Steyn met mening onder kruisverhoor neem, kom daar ’n ander wending.
'n Titelakte waarmee die regering rekord hou wie besit watter grond. 
Die probleem het ontstaan omdat pa vir Steyn na die koop van Skanse die oordrag van die kaart en transport, wat bewys in wie se naam ’n eiendom is, laat doen het.
Maar toe breek die oorlog uit en toe Steyn uitvind dat ons uit die interneringskamp gevlug het en seker al van dors dood is of deur die leeus in die woestein verskeur was, het hy al die koopbewysstukke vernietig en beweer dat die ₤900 kwitansie vir geld is wat pa van hom geleen het vir spekulasie met diere.
Pa sê toe die hof na ’n week die middag afsluit en die regter kennis gee dat hy sy uitspraak teen 4 uur sal maak, was hy so seker van sy saak dit asof al die moeite maar kon gebly het.
Die regter het 'n regverdige uitspraak gelewer.
Die regter het ’n uur geneem om sy uitspraak te lewer maar die lang ek kort is pa tree uit as oorwinnaar en Steyn moes al die hofkoste dra.
Olivier het ’n behoorlike inventaris van al Steyn se besittings gemaak en hy het die skelm toe laat uitverkoop. 
Steyn het later ’n klein hoenderboerderytjie in die agterplaas van ’n vriend in Klein Windhoek gehad, wat sy seun Gerald in Johannesburg aan die gang gesit het.
Pa was na 27 dae weer tuis en eienaar van sy plaas. 
Olivier moes toe nuwe koopdokumente opstel en die oordrag doen. 
Vader het met nog ’n klompie geld teruggekom en toe hy uitvind dat oom Jan ’n plaas nie ver van Skanse gehuur het en al die vee nog daar is, sit hy terstond af soontoe en koop hy weer ’n klompie van sy diere terug.

Fritz word my rolmodel

'n Man lei 'n blou skimmelperd.
Oom Ziegler, wat vir ons die dipgat gebou het, het ’n groot seun gehad wie ek bevoorreg was om as my rolmodel te hê en by wie ek als van sementwerk en klipmure bou, geleer het.
Klein Frits het altyd saam met sy pa help bou en so die boukuns aangeleer. Oom Ziegler was sieklik en voor hy van Skanse weg is om ’n groot huis op Nansees te gaan bou, het hy vir vader en moeder versoek om na sy seun te kyk as hy dood gaan. 
Oom Zigler is toe ook op Nansees dood net voor die bouwerk klaar was en het klein Fritz die werk eiehandig klaargemaak en nog ander werk ook gedoen.
Was ek een namiddag verbaas toe Fritz op ’n blou skimmelperd by ons aankom en hy vir pa vra of hy maar by ons kan bly. “Ja, natuurlik, jou pa het mos gevra dat jy by ons moet bly”.
Behalwe die mooi perd, het Fritz het sy pa se viool en al hul bou gereedskap saamgebring.
Sover my geheue my kan help, het Fritz nooit skool gegaan nie, maar hy het Duits en Afrikaans vlot gepraat en hy het homself behoorlik leer skryf na sy pa hom die ABC geleer het. Hy was ook ’n meester vioolspeler.
Die boerdery het nou redelik winste ingebring en kon met al die ontwikkelings aangegaan word. 
Fritz het gesien wat alles nog op die plaas gebou moes word en het met die dam begin en die pomp ook ingesit. 
'n Dipgat vir beeste en skape.
Fritz was ’n besonders sterk-geboude jong man en as jong seun het ek bewonder hoe maklik hy ’n 100lb (45kg) sak sement kon hanteer. Toe Fritz met die dam en suipkrippe klaar was, het hy ’n groot klipkraal en dipgat gebou, met afdroog kraal en al.
Latere jare, toe ek in Rayton afgetree het, het ek alles wat ek oor bakstene maak en damme bou wat ek by Fritz geleer het, weer toegepas om ’n dam te bou wat elke druppel reën wat op my dakke geval het, op te vang vir my groentetuin. 
Die werfdam wat ek ontwerp het en met my kundige familie se hulp gebou het. 
Ek het my my behendige skoonseun Ben die afmetings gegee om ’n gekurfde giet uit staal te sweis sodat my stene vanself die ronding van die dam sal vorm. My kleinseun Alwyn het elke middag na skool sement gemeng waarmee die stene gegiet was. Al die neefs het later met 'n groot kuier gehelp om die soetdoring boom wat gegroei het waar ek die dam wou bo, op te kap en die wortels uit te grawe.

Werk speel-speel met ’n kruiwa 

'n Staal kruiwa was Ollie se speel lorrie.
Midde een van die vragte sement van Ariamsvlei af, was daar ’n kruiwa. Waar ander seuns karretjies gespeel het, het ek die kruiwa rondgestoot. 
Maar ‘n kruiwa is nie ‘n speelding nie, en gou het my ma my gekry om hout uit die rantjies vir die kombuis met die kruiwa aan te ry.
Wanneer die geleentheid daar was, het ek die kruiwa in die randjies ingestoot, dan het ek swarthout takke opgebreek en op hopies gegooi, dan het ek paadjies tussen die hopies gemaak deur met my kaalvoete al die klippies uit die paadjie te vee, sodat ek my kruiwa maklik kon stoot.
Later jare het ek met veel meer moeite ’n klomp burokratiese klippe uit die pad moes stoot om die grondpad na my plot in Toitskraal te laat teer.
Maar daai volgelaaide kruiwa en my eerste paadjies was hoe ek moeder altyd goed voorsien van brandhout in die kombuis en die bakoond buite. 
'n Dover oond.
Moeder het later ook ’n Dover stoof gekry wat in die kombuis moes kom sodra die huis klaar was. 
Piet en twee ander veewagters het nou voltyds skaap opgepas en ek net so tussentye.

Nou wat van skoolgaan?

'n Skildery van 'n tipiese tuisskool in 1900s
Ons klomp kinders was aanvanklik “getuisskool”. 
Die dorpskool was twee dae se reis ver en geld vir koshuis was daar nie. Ons het net een kinderleesboekie in die huis gehad, ek meen dit was die “Trap der Jeug”.
Dit was die boek waaruit ek, my suster en later ook broer Jan die ABC en sinne moes leer lees, skryf moes on met griffels op leiklip oefen. Mens krap die leiklip met die griffel en vee die merke met 'n nat lap skoon. 
'n Lei en 'n griffel.
Pa of Ma het die lesse waargeneem na aandete en boekevat. 
Vader en moeder het ook weinig skool gegaan en is ek vandag baie dankbaar dat hulle so gewillig was om die bietjie lees en tel wat hulle gehad het, in die aande na ’n moeë dag met ons te deel.
Ek was 10 jaar oud to my ouma Nel in 1919 kom kuier het en vir ons ’n Kaapse kinderbybel gegee het. 
As oudste seun het ek die boek met sy mooi prentjies elke dag saam gevat veld toe in my skouersak. 
Ek het naderhand daardie ou kinderbybel soveel keer deur gelees dat ek dit verse feitlik uit my kop geken het.
Die huis was vroeg 1919 was klaar gebou en die grootmense het beginne beplan dat ons meer formeel moet skoolgaan. Ons buurman, oom Willem Louw se oudste kinders het toe in die Pêrel skool gegaan en sy oudste dogter was klaar met skool en by die huis.
Pa en ma gaan vra haar om vir ons net vir ses maande te onderrig. Sy willig in en so word die sitkamer bedags benut as klaskamer. Drie van oom Tobie se kinders sluit ook aan en ons leer te lekker. Juffrou Louw gee toe vir ons klas tot Desember.
Vroeg in 1920 is ek en my suster na ouma Nel toe om op Louisvale skool gaan.
Intussen het oom John, oom Floris se seun ook van die Pêrel by ons aangesluit en kan ons toe 1921 weer op die plaas skoolgaan. 
Vir die doel het pa toe nog ’n buitekamer laat aanbou. Ons moes soggens met sonop eers die boerdery regsien, dan gou gaan bad, iets eet, dan is ons klaskamer toe. As ons na ‘n paar uur se lesse uitkom, was dit weer die boerdery regsien tot dit donker is. 
In 1921 het pa se broer, oom Jan ook op die plaas by ons oorgebly, terwyl hy en oom John na Gobabis gegaan het om na plase daar te gaan kyk. 
Oom Jan se oudste dogter, Gesie, het in die tyd weer die skoolhou waargeneem tot oom Jan verder getrek het na sy plaas Kameelrus, naby Stamprietfontein. 
Beeste melk hoef nie net harde werk te wees nie!
Vir ’n jaar het ons toe weer nie skool gehad nie en was almal werksaam op die plaas om lammers groot te kry, transport te ry, en my groente tuin te versorg. As ‘n 12-jarige “groot seun” was dit ook my werk om die koeie te melk.

Ver stap vir skool in Narubis 

Intussen het oom Koos Theron van Narubis ’n skool gebou met ’n aantal kamers vir losies, en gou was ons Smitte na die informele kosskool gestuur.
Willem Petrus Burger was my onderwyser vir die eerste jaar. Sy huistaal was Engels.
Die tweede jaar was hy na Grootfontein verplaas en het ek by Scheepers Schoeman klas gehad. Die egpaar Oberholzer was ons koshuisouers. Die oom en tannie was dierbare goeie mense maar ongelukkig kom daar toe ‘n maand voor die skool sluit, ‘n stryery met van die ouers en hulle bedank hulle en gaan weg.
My susters is toe terug huis toe, maar ek en broer Jan wou die skool inspekteur wat ons die einde van die jaar sou toets, nie mis nie en ma se broer en skoonsus, oom Elias en tant Wilhelmina, bied toe aan dat ons by hulle kon bly.
Hulle plaas was egter 5 myl (8 km) van die kosskool af en ek en Jan moes elke dag die twee uur oor berge na die skool loop en vanaand weer twee ure terug.
Vir 26 dae moes ons elke dag die 10 myl aflê. Soggens begin ons al terwyl dit nog donker is.
Die inspekteur, ’n Meneer De Waal, kom toe die 20ste November. Ons skryf eksamen en kom goed deur.

Ons bou ons eie skool

Sement stene giet is stap een van enige bouwerk.
Toe ons op Skanse tuiskom, was ons verlig om te hoor pa en oom Tobie het al begin bou aan ‘n klaskamer en pa het aansoek gedoen vir ’n staatsonderwyser om op die plaas te kom klas gee.
Pa en oom Tobie en hulle oudste vier seuns maak stene dat dit bars.
Ek en Jan ry met die donkiewa om hout en sink en sement op Keetmanshoop gaan haal.
Oom Tobie se swaer, Willem du Plessis kom doen die bouwerk en ons neefs speel handlangers.
Dit was net ’n keer hier en links staan daar en regsvat so, toe staan ons klaskamer en was ons trots dat ons nou langs die huis kon skoolgaan.
Ons eerste klas was 15 leerlinge sterk. Oom Hendrik en Willem se kinders plus ’n paar wat by hulle loseer het, het ons Smitte se getalle aangevul.
Mnr. Crous was ons eerste onderwyser. Hy was ’n bekwame man en ons het die skoolgaan baie geniet.
Pa het die plaasskool laat aangaan tot sy jongste hoërskool toe moes gaan.
Ek was toe al opgeskote tiener en het vakansies in die veld gaan skaap oppas sodat die amptelike skaapwagter by sy familie kan gaan kuier.
Een keer ‘n maand moes ek met die donkiewa na Keetmanshoop gaan om ’n vrag negosie op te laai vir ma en al die bywoners op die plaas. Van elkeen kry ek ’n lysie en bring dit net soos dit opgeskryf was en by die algemene handelaar beskikbaar was.

Die Bondelswart rebellie

Jakob Morenga (middel) hoofman van die Bondelswarts en sy offisiere.
Dit was ’n koue wintersdag in Mei in 1922 toe ek en pa ’n vrag meel, voer en die gewone negosie goete vir almal op Ariamsvlei gaan haal het. 
Ons was met die vrag oppad terug toe ’n oom Van Niekerk ons tussen Springputs en Hudab stop en vra dat pa saam met hom na Karasburg gaan waar die manne saamgetrek het na hulle opgekommandeer was om die Bondelswarts-opstand in Warmbad Distrik te help onderdruk.
Pa sê toe: “Nee Gert, ek laat my kind nie met hierdie vrag alleen op die pad nie. Ek sal probeer by die huis kom so gou ek kan, maar ek sal nie voetsoldaat speel nie. Ek gaan op Karasburg my perd en ’n wapen kry.” 
Dit was baie nat en koud toe ons die tweede aand na oom Van Niekerk pa opgeroep het, net sononder die span donkies op Smorswind laat drink het. 
Drie myl verder, net onder die hoogte sê pa die donkies is te moeg en honger om die vrag die hoogte uit te trek en ons was midde mooi gras waar hulle kon wei. Ons span uit en die donkies staan en eet sommer net daar om die wa. 
Ons rus ook na ons geëet het, met die plan om middernag weer in te span. Maar wat wou, middernag was die weer behoorlik toegetrek en kon ons nie in die donker die donkies bymekaar kry nie.
Toe dit lig word, span ons in maar die water val en dit was vrek koud. Ek sit voor op die wa-kis met die leisels van die twee agterdonkies Yster en Jakob, en moet ook die rem hanteer teen die afdraende af. 
Dit was oor die drie myl tot by oom Koos Shephard. Daar laai pa gou die oom se negosie af en vertel hom so tussen in van die Bondelswarts se planne.
Tipies aan Suidwesters se gasvryheid, span oom Koos onverstoort die donkies uit en druk hulle in die kraal terwyl pa nog oorlog praat, en toe druk hy vir my en pa in die heerlike warm kombuis in, waar tant Maria vir ons lekker boudbiltong in botter met eiers bak. En was dit lekker!
'n Suidwes "snack" - gebakte eiers en biltong in botter gebraai.
Na ons geëet het, wou pa inspan dat ons kan tuiskom, maar ou Koos sê net, “Okkie waarom so haastig? Hierdie nat koue weer is nou tot in Warmbad, en ek wil die hottentot sien wat in so ’n nat dag sal oorlog maak, en ek sê jou, daardie klomp manne van Karasburg en Warmbad het klaar met hulle afgereken”.
Maar pa hou vol dat oom Koos ook sy perd gereed moet kry sodat hulle twee die volgende oggend kan saam ry Karasburg toe.
“Nee Okkie, hulle weet van jou belofte en wag vir jou op Karasburg, maar vir Koos Shepherd moet hulle hier kom haal”, vertel hy. 
Ons het na 12 uur se asemskep weer in die gery en was dit net kuile en strome water met die kloof op.
Reënwater vloei teen die kloofpad af.
Ons dryf die span donkies daarna om tuis te kom. Die nag was die wa afgelaai en donker die volgende oggend moes ek die perde haal. 
Broer Jan wat die ooie opgepas het, het daardie namiddag die perde in die veld gesien. Ek dra ‘n toom saam om net vir ou Venus terug te bring – as ek hom kan vang.
Wyl ek perd soek, sien pa solank die boerdery reg en tel hy skaap. Dit was amper middag toe hy opsaal en ons maan om enige Hotnotte wat kom werk soek of vir pa wil spreek, haastig van die plaas moet wegkry en verder sal oom Tobie my bystaan terwyl Pa na Karasburg ry.
Die DH 9 met vier Vickers masjiengewere waarmee die Bondelswarts aangeval was.
Maar pa se rit was van korte duur, want hy het sommer op Stinkdoorn omgedraai, na een van die Le Rishe broers teruggekom het met die tyding dat die Hottentotte oorgegee het, na Generaal Smuts twee De Havilland DH 9 vliegtuie uit die Unie se nuwe lugmag gestuur het om ’n paar bomme op hulle te gooi en op die mense en hul vee met masjiengewere uit die lug te skiet.
So het Smuts die opstand net so genadeloos onderdruk as wat hy vroeër in 1922 die wit myners se Rand-Rebellie met 20,000 soldate, grofgeskut en masjiengewere beëindig het. 
Smuts se opdragte om sonder huiwering terug te stamp het hom nie gewild gemaak nie, maar waar ek in ’n harde wêreld groot geword het, het ek gesien dat daar altyd iets of iemand sal wees wat jou wil domimeer, intimideer of manipuleer om jou kos of skuiling te vat.
As jy nie vir jourself dink nie en enige van drie dinge toelaat, word jy gou wat die Engelse "dim" noem. Stoot harder en vinniger terug, dis die enigste antwoord en dit was met hierdie filosofie dat ek later ’n groot ondersteunder van Smuts geword het. 

My eerste geweer

My neef, oom John was by die sametrek van burgers wie vir die rebellie opgeroep was. Met sy terugkeer het pa sy .303 Lee-Metford gekoop vir my om jakkalse te skiet wanneer hulle skaap jag.
Ollie se geweer, 'n .303 Lee-Metford, oftwel "Die Bobbejaanhout".
Met die ou Bobbejaanbout het ek oor die maande twee jakkalse, een jagluiperd, ’n rooikat en ’n aantal berghane die stof laat byt toe hulle in die dag waag om my skape en lammer te poog eet.
Bobbejane wat ek doodgeskiet het, was ook tientalle. Ek het ook drie springbokke en twee volstruise op redelike ver afstand met kolskote geskiet.
Tussen al die diere wat ek geskiet het, onthou ek egter ’n gemsbokbul wat die mense met perde so gejaag het dat sy kloutjies afgeskuur was sodat daar ’n bloedspoor was waar hy op ’n klip getrap het.
Ek het gewyfel of ek die gemsbok aan die natuur moes oorlaat om te deur ’n roofdier gevang te word, of ‘n vinnige dood moes gee. 
Die aand toe pa tuiskom, was hy dit ook eens dat ek reg gedoen het want die dier sou later nie verder kan loop nie, en as ‘n roofdier hom nie sou vang nie, sou hy stadig vrek. 
Maar ek het nooit van jag gehou nie. Slag was ek egter meesterlik mee, en ek kon ’n skaap so vinnig in boude en blaaie verander van die keel afsny af, dat die niertjies en lewer nog nie eers gaar was teen die tyd dat ek klaar was.

Verder stap vir skoolvakansie

Hoe verder mens loop, hoe swaarder word die sak!
’n Ander voorval weer, het pa met die een trop skaap by Stinkboom gaan oppas sodat die skaapwagter, ou Hendrik, saam met my na Ariamsvlei kan gaan om ’n vrag huisbenodigdhede te help laai en net bietjie andergeite sien.
Alles het mooi verloop tot ons die aand met die terugkom, net voor die drif by Smôrswind, teen ’n boomstomp gly. Ou Hendrik sien hoe die wa na die boom toe neuk, maar is te onnosel is om sy voet weg te ruk en die stomp druk sy enkel teen die wa vas dat jy net beentjies hoor kraak.
'n Voet met gebreekde tone. 
Daar was egter niks anders om te doen as om die donkies uit te span om te wei en te drink. 
Terwyl Hendrik op die wa lê en kreun het, het Japie Theron, ‘n bywoner van oom Goewerment, my gehelp om die donkies weer in te span.
Vandaar was nog 14 myl (22 km) Skanse toe en moes ek deurnag deurstoot onder die helder maan, want as ek uitspan sou ek die donkies nie alleen weer in die tuie kon kry nie. 
Hoe nader ek na die plaas gekom het, hoe moediger het die span geword om uit die tuie te kom en ek kon hulle 4 uur die oggend uitgespan.
Mens sien die vol maan nêrens mooier as in die Kalahari nie.
By die huis gekom het moeder dadelik ou Hendrik se opgeswelde voet met koue asyndoeke omgeslaan. 
Die aand sê ek vir moeder ek wil die volgende oggend vroeg na pa gaan waar hy in die veld met die skaap is, dat hy terug op die plaas kan kom. 
Sy maak toe vir my proviand reg, soveel ek kon dra op die lang pad tot waar ek vir pa sal kry.
Die afstand was so 15 myl (24 km). Ek was al my jare ‘n vinnige stapper maar 15 myl oor berge en dale met ’n swaar pak op jou rug verg minstens sewe ure se harde stap en ek was drie uur die volgende oggend oppad om so 10 uur my vader te kan aflos.
My pak proviand het hoe verder, al hoe swaarder geword maar gelukkig het pa daaride oggend die skaap in my rigting wei en kry ons mekaar nog voor 10 uur.
Ek hang my kos hoog in ’n boom en pas die trop op terwyl pa na ’n bietjie gesels aanstap huistoe.
Die res van die Desember vakansie het ek daar in die veld met die skaap gebly en toe ek moes terugkom vir skool na Narubis, en ou Hendrik nog vol piep is, sê pa vir hom dat as hy nie Vrydag na sy trop kan gaan nie, hy moet loop en sal pa ’n ander wagter gaan haal. 
Die is toe gewillig om na sy werk te gaan, as pa net vir hom ’n rydonkie gee dat hy nie die 15 myl op sy nog tenger voet hoef te loop nie.
Saterdagmiddag was ek terug en Sondag het pa ons koshuis toe geneem. 
So was ek vir daardie Desember vakansie minder as 60 ure by die huis.

My snaakste transport tog

Ek en broer Jan moes ’n vrag benodigdhede met die winter-skoolvakansie op Keetmanshoop gaan haal. Daar moes altyd ’n paar 2x4 gallon blikke en kiste met kanne petrol ook saamkom en die blikke het gewoonlik met die skud van die wa opgeblaas en aan lek gegaan.
Ons het die krakies met Sunlight seep gestop en altyd seker gemaak die koekies seep word nie met die inpak vergeet nie – Sunlight seep was daai jare so handig soos Duct skeerband vandag is!
Die Duct-tape van die ou dae, Sunlight seep.
Die heen en weer Keetmanshoop toe verg amper twee weke se rustige loop met die donkies en die eerste aand slaap ons in die poort. 
Die oggend toe ons daar weggaan was my verjaarsdag. 
Daardie namiddag gee laat drink ons die donkies op Groendoring in die rivier en vertrek ons weer vir ’n aandskof om tussen die Ghabo-bos se rantjies uit te span.
Na sononder word dit koel en besluit ek om langs die span te stap om warm te bly, maar Jan bly sit op die voorkis, waarin al ons proviand vir die volgende 12 dae is. 
Hy voel ook die aandluggie word koel en sit ’n kopkussing onder hom en hang ’n kombers oor sy skouers.
Daar was so ’n laataand maan aan die wes hemel en die nag was stil, met net die donkie se asems en die wa se geluide in die donker.
Meteens hoor ek net ’n donkie gee die gevaarsnork teken en daar trek die span volspoed weg met die wa al hoppend agterna en ek sien Jan is nie meer op die voorkis nie!
As donkies eers begin hardloop, stop hulle nie gou nie.
Ek sukkel om tussen die doringbosse uit te kom en moet nou die voortsnellende wa van agter inhardloop en opspring om by die leisels en rem te kom. 
Na ’n paar 100 meter slaag ek om ‘n hand op die wa te lê en van agter op te klim om die spul tot stilstand te kry.
Dit draai toe uit Jan het vooroor aan die slaap geraak en sy kombers het net mooi oor Yster, die haaragter donkie geland. 
Yster dag seker ’n leeu het hom beet want hy het die gevaar snork gegee wat die span donkies soos renperde laat hardloop het, hulle rieme naderhand heel verstrengel. 
Met die ruk van die wa het Jan voor afgeval.
Ek het die rem styf opgetrek en die deurmekaarspul op die wa net so gelaat om eers versigtig die kombers tussen die donkies uit te haal.
Toe is ek die pad terug om te kyk of my broer, wie ek net so skuins in my verbyhardloop gewaar het, lewend of dood is. 
Eers kry ek die kussing, en nog ’n end verder terug my broer, so waggelend aan die kom. Ek vra hom of hy seergekry het. 
“Net my regterarm” sê hy.
Om daardie deurmekaarspul rieme in die nag los te kry, was onmoontlik en ons besluit om maar elke donkie klaar te span en hom dan los te gespe. 
Ons twee het ’n vuurtjie gemaak, geëet, gaan slaap en die volgende oggend met die ontrafeling van die trekgoed lekker gelag.

Kransklim herders 

Ollie was 'n waaghals klimmer.
Die jaar wat volg was ons vry van skoolgaan, want ons seuns mos weer help skaap oppas en lammer vang. Pa het ’n stuk veld van Bakrivier huur en ek en my ou maat Piet Boesman moes daar tussen die trop lammerooie en bokke gaan bly.
Ek pas die skaap ooie op en Piet die boerbokke. Die boklammertjies word soggens in ’n die skadu van ’n takhokkie gesit, maar die skaaplammers loop saam met die ooie. 
Een oggend ontdek ek dat ’n ooi wat die vorige nag gelam het, na haar lam soek. Ek soek oral rond maar kon hom nie vind nie.
Twee dae gaan verby en dieselfde gebeur weer. ’n Tweede lam is net weg en vermoed ek daar moet iets wees wat hulle vang, maar wat kan dit wees?
Piet stel toe voor ons ruil om, en hy sal dan op en wakker wees en die Ma-awa vang. Die Boesmans glo die Ma-awa ’n onsienbare, mensagtige ondier.
Maar die derde skapie verdwyn ook net soos die eerste twee, en die raaisel bly onopgelos. 
Piet wil nou verder niks weet van Ma-awa of die skaap-ooie nie, maar toe die Berghaan (ook bekend as ’n Bateleur arend) weer die oggend soos ’n pyl uit die lug op sy vierde lam afskiet, sien ek haar van onder ’n doringboom waar ek in die skadu gesit het.
'n Bateleur arend.
Ek skreeu en gooi klippe en slaag daarin om die arend weg te jaag. 
Ek fynkam die res van die dag die lug en in die namiddag sien ek waar haar nes is toe sy met ’n dassie na die krans vlieg om haar kuiken te voer.
Die volgende oggend besluit ons om daardie nes en kuiken te vernietig, maar hoe gaan ons dit regkry, daar bo so hoog op ’n kranslysie?
Ons jaag daardie oggend die skaap en bokke saam in een klomp en ons bring hulle waar die rivier in berg ’n elmboog maak. 
Ek en Piet loop tot by die voet van die krans met die nes hoog bo ons. Planne word nou beraam om tot daar te klim en die nes aan die brand te steek, of af te stoot. Maar dit klim lyk op die beste onmoontlik en op die ergste lewensgevaarlik. 
Ek stel toe voor dat Piet, wat jonger en behendiger is, die 30 voet (so twee verdiepings) opklim en die nes afstoot. Maar Piet wou niks weet nie, ten spyte van my beswaar dat pa baie kwaad sal wees oor die drie lammers, en ons nog kan slae kry ook.
Piet vertel eerder ’n pak slae as dood val van kranse klim. Terwyl ons daar staan en redekabel, duik die pa en ma Berghane bo oor ons en skreeu waarskuwings as ons iets aan hulle nes doen. Hulle het duidelik meer geloof aan ons klim vermoë as Piet!
Ek dink by myself net nou vang julle nog een van my lammers vir julle kuiken en trek net daar my veldskoene uit, sit ’n boksie vuurhoutjies in my sak en gaan ’n entjie na regs waar daar so ’n 40-grade geut in die rotswand is, en heeltemal vertikaal.
Daar was net-net klein haakplekkies om my tone en vingers in te grawe en dit vorder stadig op teen die rotshang, maar ek hou my oë op die rotslysie waarop die nes is. My spiere was bewend moeg en lam toe ek uiteindelik op die lysie sit, en kon ek my voete teen die een kant van die geut druk, my rug teen die anderkant, met jy rug styf gespalk, om my bewende spiere ’n bietjie te laat rus. 
Van hierdie posisie was die lysie nie veel breër as 12 duim (30 cm) nie en ek het versigtig met my rug teen die rotswand voetjie vir voetjie na die nes toe geskuifel. Piet het skielike baie klein gelyk waar hy doer onder na my opgekyk het. Die twee arende was nog steeds besig om op my af te duik om met hul skerp kloue my oge uit te ruk en ek moes my inhou om nie wild na hul te klap en so dalk my balans te verloor nie.
Uiteindelik was ek by die nouste deel van die lysie verby en was daar weer ’n strook waar ek met my rug teen die wand kon afsak om te sit en rus. 
Vandaar moes ek om ’n hoek gaan voordat die nes in sig was. Van hier was die lysie heelwat breër tot so 10 voet van die nes af, waar die lysie baie nouer was en onder ’n effens oorhang ingegegaan het wat my geforseer het om nader te kruip, met my vingers en kniege wat net net op die lysie pas. Daar was twee van die lammers se bene en een kop in die nes wat ek ook eers af gegooi het as bewysstukke. Baie dassie en klipbokkie beendere was ook agter die nes onder die diepste deel van die oorhang. 
Die twee arende was nou nog meer agressief en die laaste stukkie kruip na die nes was uiters moeilik, maar met die sukses so naby, sien mens mos nie meer gevaar nie. 
Toe ek by die nes kom, skop die kuiken groot lawaai op en duik die berghane so naby my dat die wind van hul vlerke my hoed af waai. 
Ek gryp die kuiken om die nek maar die klein bondel vere is verrassend sterk en veg terug sodat ek hom nie van die nes takke kon lostrek nie. Ek wikkel ’n dikkerige stok uit die nes en moker hom hiermee oor die kop. Ek kry sy kloue los van die nes en stoot hom met die stok af. 
Sy vlerke was nog te swak om hom in die lug te hou en die kuiken vladder af en val tot onder op die rivierbodem. Toe hy daar land was die twee grotes by om seker te help, want wegdra sou hulle hom seker nie kon nie. Maar hulle laat my darem met rus en nou moet ek net die groot nes aan die brand kry en dan weer my pad terug volg.
Mens en wat ’n fout begaan ek hier – seker omdat ek nou haastig was om weer onder op gelyk grond te kom. Instede dat ek die nes aan die verste kant aan die brand steek, sodat die vuur kon tyd neem om deur te brand na my kant sodat ek rustig die moeilike omdraa op die nou lysie kan maak en weg kruip van die nes af, sit ek die vuur hier by my aan die gang. 
Die droë takkies en donse vat dadelik vlam en hierdie bobbejaan besef hy moet hom gou uit die voete maak! Maar toe ek uiteindelik my versigtige omdraai doer bo op die lysie gemaak het, wys einste voete mos na die vlamme, wat nou al hoe hoër brand. 
Nou moet jy een ding weet van hitte en ’n plaasseun se klipharde voetsole: Dit van lank voor harde voetsole brand, maar dan maak hulle op vir al die gewag en brand soos kole vuur! 
Die vlamme brand intussen al hoër en albei my voete voel naderhand of hulle aant' vlam is waar ek so stadig soos 'n trapsuutjie oor die nou lysie kruip met hande wat sweet en vingers wat skielik nie meer krag het om in die rotskepe te hak nie. 
Die nes staan intussen in meters-hoë vlamme en die vuur brand my voete dat ek nie meer kan hou nie. Met die vreesaanjaende vlamme agter my was ek so benoud dat ek als net wou los en spring, al sou ek myself te pletter val op die rotse onder my. 
Ek bid dat die Here my moet help, en die woorde “Moet nie vrees nie” kom in my gedagte en met my volgende kruipslaf is ek oor die gevaarlike stuk en kan ek die hoek gebruik om regop te kom, weg van die vuur wat toe al amper uitgebrand was.
Maar my voete is te seer om te loop so ek kruip verder. Die afstand was nie te ver nie, maar toe ek in die skeur moes afgaan met my voete aan die eenkant vas gedruk en my rug teen die ander kant, ontdek ek hoe seer my voete onder was. Maar daar's geen ander genade en ek sukkel met die geut af, wat darem vinniger gaan as op. 
Onder gekom, druk ek my seer voete in my skoene, maar toe ek wil begin loop, ontdek ek dat my voete te erg gebrand het.
Voetsole brand altyd seer.
Intussen moes Piet hardloop om ons troppe terug te bring. Die twee groot hane sweef toe nog steeds bo ons. Toe hy terugkom sê ek aan hom, “Slaan dood die Satan”, menend die arendkuiken wat toe al tussen twee klippe skuiling gesoek het.
Ek kan nog steeds nie op my voete staan nie en sê vir Piet dat hy alleen na die trop moet kyk, ek gaan terug na ons kamp toe die doringboom om daar in waardige stilte te ly.
Vroeg die namiddag kom broer Jan op ’n donkie om my af te los. Hy het ook kosvoorraad gebring en ek kon op ou Jacob terug ry huistoe. Tuis aangekom, vertel ek vir ma wat ons gedoen het en dat my voete baie seer is.
Toe pa later tuiskom van die ander trop skaap, vertel my suster gou vir pa van my voete. Ek was nie teenwoordig nie, maar pa was so ontsteld en sou my gegryp en ’n dekselse pak gegee het omdat ek so ’n kans gevat het. Pa het geweet van die nes op daardie gevaarlik plek. 
Ma tree toe in en sê dit is nou alles verby. Alwyn is in lewe by die huis, en die waagstuk van hom is beloon en geen geraas verder nie.
My moeder het die groot blase op my voete met Dubin gedokter en drie dae later kon ek alweer goed loop en was ek die middag terug met kos en al na Jan sodat hy weer kan huis toe gaan, maar hy sê, “Nee Boetie, ek bly hier tot ons môre oggend sien hoe jou voete is”. 
Die volgende oggend vroeg stel hy voor ek gaan weer terug sodat my ma nog na my voete kan kyk.
Hy gaan haal vir Jacob, saal hom op en sê toe, “weg is julle”.
Drie dae later is ek terug en toe was twee blase onder my voete al droog.

Die nadraai van die groot klim

Die Du Pont gifmaatskappy lieg al dekades met advertensies soos die oor hoe gevaarlik hul giwwe is.
Toe ek in die 1950s erge vergiftiging opgedoen het en by die dood omgedraai het danksy die DDT Felidol en Parathion waarmee ek die landerye besproei het, het die giwwe my senuweestelsel so aangetas dat ek vir die res van my lewe aan erge hoogtevrees gely het. 
Net om twee trappies hoog op ’n trapleertjie te staan om druiwelote te span, was vir my erg. Ons het die gif oral gespuit en die chemiese maatskappye wat vandag nog op groot skaal gif maak, het toe al sonder skroom gelieg oor die gevare. 
Onthou, daar is altyd iemand wat jou poog domineer, intimideer en/of manupileer, en alle verkopers van chemiese goete staan voor in dese koor. 
Ek het ook vir jare na my vergiftiging met skrikwekkende drome geworstel waar ek net aan my vingers hoog aan kranse hang. 
Toe ek dekades later in 1984 saam met broer Jan weer by dieselde krans was en sien hoe gevaarlik daardie klimmery van my was, kon ek nie glo dat ek kaalvoet en kaalhand daar opgeklim het nie.
En alhoewel ons op plat aarde gestaan het, het ek met die opkyk so vreesbevange geraak dat my voete spontaan in my skoene saamgetrek het, soos krampe.
Ons seuns het natuurlik wraak gesweer op die arende wat ons lammers so vang. Ons het hulle ingewag as hulle saans terugkom om te slaap, maar die twee Bateleurs het veilig en hoog op ander plekke in die krans gaan geslaap. Jare later het Jan hulle albei geskiet.

Nog ’n Berghaan kos byna my lewe

Ollie se bene was vir 'n ruk verlam na 'n groot val.
’n Ander berghaan episode het byna my lewe gekos. Dit het op Skanse, nie ver van Klaas Dousab se werf af, gebeur. 
Dit was seker so omstreeks vyf uur namiddag terwyl my skaap stadig huiswaarts wei, en daar agter tussen die skaap ’n aantal lammertjies was, dat ek ’n enkel Berghaan hoog bokant die skaap sien sweef.
Nie lank nie, gaan sit hy op ’n kokerboom, ek het my .303 en beweeg saam met die skaap tot ek verskans raak agter ’n rots van die rif waarop hy sit. 
Deur ’n gleuf kon ek die arend mooi oor my visier sien, teen die sonsak gesilhouteer so 200 meter van my posisie af. 
Toe ek die sneller trek, sien ek die arend tuimel soos ’n vel papier. Ek storm nader en kry toe ’n gleuf in die krans waar ek maklik tot bo kan klouer. 
Ek maak die geweer onder teen die rots staan, en los ook my waterbottel daar met nog ’n slukkie water in, wat daardie tyd van die dag wa die water nog te warm om te drink.
Ek begin die rots uitklim omtrent en so agt voet hoog breuk die laaste klip waaraan ek vat om my te lig, los, tref my kop en slaan my katswink. 
Ek tuimel bewusteloos tot op die grond, met ’n gat in my kopvel bokant my linkeroor waaruit die bloed stroom soos wat net ’n kopwond kan bloei.
Piet was toevallig net aan die die naderkom op die hoogste punt van die rif, so ’n halfmyl verder, toe hy die Berghaan opmerk en ook die skoot hoor, en die haan sien aftuimel. 
Hy het die dag na ses verlore skape gesoek wat die vorige dag van die trop afgedwaal het.
Die jakkals het die nag een doodgemaak – wat Piet toe gekry het – en die ander vyf het die oggend 10 uur na die trop terug gekom. 
Toe Piet die arend sien val, hardloop hy nader, kry die haan en sien my onder lê in ’n plas bloed. 
Hy vertel hy het my geroep, maar ek het nie gereageer nie, toe klim hy vinnig teen die krans af. Met die louwarm water maak ’n sy sakdoek nat en druk dit teen die wond om die bloed te stop.
Die lafenis kry my toe darem by. Piet bind sy ou vuil sakdoek met ’n sweepvoorslag onder om my kake vas, maar die bloed hou darem op vloei. 
Maar voor hy my huis toe help, sny Piet eers die haan se vlerke af, want moeder het dit met sout gedroog en die vlerke gebruik om die kole in haar Dove stoof aan te blaas. Piet het seker geredneer ek kon nog baie kere bloei, maar arend vere is skaars! 
Die ooie het nou al uit sig verdwyn huistoe en ons moes haas om by die trop te kom sodat die lekkerbek ooie nie weer afdwaal agter enige groenigheid nie. Hier is waar ons probleem toe begin. My bene was heeltemal lam en kon ek nie sonder hulp loop nie. 
Piet moes my help en kon nie nog die geweer ook dra nie. Ek haal die magasyn en die geweerslot uit en laat hom dit in sy kossakkie dra.
'n Lee Metford se slot.
Die geweer self druk hy onder ’n melkbos in. Hy hou om my arm oor sy skouer en dra-sleep my aan. Ons was oor die 2 myl van die huis af. 
Hy los my daar op ’n rif onder ’n rots in die skaduwee, haas hom om eers die ooie bymekaar te kry, wat toe al in alle rigtings uitmekaar gesprei het. Ek sê toe hy moet eers die ooie huistoe neem en my dan kom haal, maar nie lank nie toe was hy terug en sukkel ons weer aan. 
Die ooie was nou tussen bosse waar twee riviere saamvloei. Piet los my weer en druk hulle op ‘n bondel en dryf hulle die laaste nek uit waar die Droërivier dwars kom en Piet is weer terug.
Daar was ’n sanderige deel en ek het op my hande en knieë ’n end probeer aangaan, maar nie veel gevorder nie. Hy abba my toe tot hy te moeg word. 
So sleep-dra en abba Piet my tot ons net sononder by die huis aankom.
Ollie se makker Piet het hom huis toe gedra na hy van 'n berg afgeval het.
My linkersy was toe al tot by my knieë nat van die bloed, en so weer Piet se regtersy, en sy rug ook. Pa en ma het saamgespan en die bloed met tabakblare te stol en die droë bloed af te was. 
Na ma vir my kosgegee het, was ek dadelik aan die slaap. 
Deur die nag was daar maar altyd ’n moedersoog oor my. Die volgende oggend was ek beter maar kon eers ’n paar dae later weer loop. 
Piet was so bevrees dat ons ooie nie almal tuisgebring het nie, maar toe vader die volgende oggend tel, was net die een wat die jakkals gevang het, kort.
Ons het ook geweet waar die twee hane se nes was, en met ondersoek gesien dat die een broei. Op ’n dag, weke later moes ek per donkie na twee koeie gaan soek wat gekalf het. 
Ek vat oudergewoonte my .303 saam en kruip op die krans uit waar net my oog oor ’n klip kan sien en skiet die kuiken op die nes dood. 
Daar het toe nooit weer hane in daardie nes kom broei nie tot die jaar 1945, toe broer Jan weer een op die nes doodskiet, van dieselfde plek waar ek was. 
Die ander een het ’n tyd lank baie sku in die omgewing gebly en toe verdwyn.

Katswink in die put

Oom John sou vertrek na Rehoboth en stel aan pa voor om voordat hy weggaan, eers te help om die put dieper te maak tot dit sterk genoeg sal wees om deur die somer te hou.
Behalwe vir die fontein na aan die wesgrens van Skanse, was al die diere vir water afhanklik van die een put.
Hy, Pa, ek en Jan begin toe die volgende oggend in die put werk. Ons sak met rieme af af en boor vyf gate, een in die middel van die rotsblad onder, en ‘n gat in elke hoek. 
Ons blaas die vyf, en boor weer vyf aan die wande om dit regaf te skiet. So het die put se vloer amper twee voet, amper ‘n halwe meter gesak, maar pa besluit om nog dieper te gaan.
Dinamiet kerse.
In ’n week was die skietwerk afgehandel en die water sterker, en nou moet die vloei gemeet word. 
Bo op die put was ’n katrol of “wentel” soos die meganisme bekend was, waarmee die swaar emmer maklike laat sak en opgehys kon word. 
’n 100vt ketting of staalkabel was om ’n houtrol, met enige dikte van 6 duim tot 12 duim gedraai. Aan elke end van die rol is twee z-vormige kranke waarmee die rol gedraai kon word.
'n Waterput met 'n katrol.
Aan elke end van die kabel is ’n agt-gelling drom. Wanneer die een opkom gaan die ander af. 
Oom Tobie en sy twee seuns, Alwyn en Hans kom die namiddag help met die vinnige draai van die rol.
Oom John en ek gaan af om die dromme vinnig vol te maak.
Elke keer wanneer ek in die put afgesak het, het ek ’n groot spoelklip so drie voet van die rand af uit die put se wand sien bult. Ek het gewonder wanneer die klip eendag gaan loskom en val tot onder. Op hierdie dag gebeur dit toe dat die spoelklip loskom.
'n Tipiese spoelklip.
Oom John en ek was onder in die put, besig om die drom vol te maak sodat ons kan sien hoe vinnnig die water weer terug sypel. 
Hy het met een skep die drom so vol moontlik gekry en ek moes gereed staan om dit met ’n emmer die drom verder vol te maak.
Net toe ek buk om ‘n tweede emmer in te gooi, val die die ronde klip en tref my vol agter my linkerblad. Weer is ek katswink geslaan, maar die keer was ek ook wind-uit.
Ek val uit soos ’n kers met my gesig in die water en oom John gryp my, gooi die water uit die drom, sit my voete daarin en maak my aan die kabel vas met ’n osriem wat inderhaas van bo afgegooi word. 
Pa-hulle katrol my vinnig op, en dra my huistoe, waar hulle my later bykry.
Die klip het die klomp senuwees wat die bragiale pleksus opmaak ’n kolskoot getref en vir maande lank kon ek nie my linkerarm ten volle gebruik nie.

'n Harde hou om die blou kol verlam 'n arm vir maande. 
Die skouer het met tyd heeltemal herstel, maar as oom John nie in die put was om my uit die water te lig nie, sou ek verdrink het. Ek het die klip later uitgehaal en vir jare op die plaas bewaar, maar later jare het iemand dit weggeneem. 
Daardie spoelklip het net oor ’n half pond geweeg en het so hard soos ’n hammerhou geslaan

My eerste groentetuin

'n Seuntjie skoffel gras uit 'n groentetuin. 
Vandat ek kan onthou het ek takkies en stokkies op sagte stukkies grond gedruk en wat ookal bly groei het, was my tuintjie.
Toe ek ouer word, het ek my saadjies en stiggies ‘n mooi strokie mooi grond langs die put geplant, maar die hase en boklammers het altyd met die meeste groente weggekom.
Oom Klaas Louw het kom kuier en sien toe my gesukkel. Toe hy teruggaan huis toe, stuur hy vir my ’n rol staaldraad om my tuin te omhein.
Nou moet daar pale gekry word. Pa en Fritz neem die wa en donkies, gaan haal ’n vrag klippale op Smôswind, waar die rotse in natuurlke heining pale gevorm het. 
Daar kon mens nog steeds klippale van so 4x6 en 5x8 voet vlak op die grond uithaal.
Pa kan toe soveel van die klippale kry dat hulle nog vragte gaan haal en nog ’n paar rolle staaldraad koop en ons ook ’n groot draadkraal maak. 
Maar ek dring aan dat my tuin eers omhein moet word.
Die opmetings doen Fritz vir my en ek maak gate. Die grond was baie hard en Fritz sê toe, “maak net ’n klein vlak gaatjie, gooi dit vol water. Laat dit in sink en die gegrawe gaan dan makliker wees”.
So gemaak en gou was die gate gegrou en ons plant pale en ankers. 
Volgende word die draad gespan en toe wou ek eers spit en plant, maar pa sê toe nee, nou is dit eers die draadkraal se beurt.
Die kraal was ’n paar dae se werk en ek het met elke breukie, tot laat saans en van voordag soggens gou in my groentetuin gaan werk. Ek het leivore gemaak en al die saad wat ek gehad het, geplant.
Van toe af moes ek bereken hoe om my water met die meeste voordeel te gebruik, want daar kom windlose dae wanneer die windpomp nie ’n stroom water in die krippe spuit nie maar baie diere wil moet nog water drink. Eers as dit gereën het en die kuile vol is, drink baie diere in die veld. 
Op sulke windlose dae – en daar was baie – moes ons water uit die put met swaar emmers op katrol, nie net vir my groente nie, maar ook vir mens en dier.
Ek het baie geleer by oom Floris se boord en fyntuin wat hy het net laer af langs die rivier gemaak het. Eers het hy ’n stuk grond met ’n spitgraaf en kruiwa gelyk gemaak, toe het hy slote gegrawe en die met die kruiwa vol kraalmis gemaak.
'n Lemoenboord.
Sy plan was om 108 lemoenbome en fyntuin in die vore te plant. Sy plan was voorts om nie op die rivier vir water staatgemaak nie, maar op ’n pragtige dam wat Fritz daar gebou het, wat gevoer sou word uit ’n put wat oom John en Floris “Silverkuif” Coetzee 45 voet (13 meter) diep gegrawe het.
Ons het elke dag water uit daardie put opgekatrol en oom Floris het met sy eerste oes spanspek, groente en waatlemoen in vragte kon uitry en sover as Windhoek verkoop.
Om nie elke windlose dag met die emmers te sukkel nie, het pa met die oesgeld die volgende jaar ook ’n windpomp op oom Silverkuif se put opgesit en die pomp het die dam een keer vol gekry. 
Toe ons uit die dam begin water lei en die windpomp met baie wind aanhoudend werk, ontdek pa dat die water in die put al hoe laer sak, en uiteindelik gee die put op.
Gelukkig was dit voor die bome geplant is. Die boord en tuin is geskuif en die put is later toegegooi, wyl die dam se klip is vir ander bouwerk gebruik is.
'n Oopgebarsde granaatvrug in die boom.
My groentetuintjie is egter dekades later nog waar ek dit neffens die eerste put geplant het, met granate en al die langlewende vrugtebome wat ek in die vroeë 1920s geplant het. 
Dit was vir my baie aangenaam om soveel vrugte vir die huis te kon oes in inlê en nog baie vir oom Tobie te kon gee.
Daardie tuin was my eerste liefde, want wanneer ons neefs en niggies bymekaar gekom het vir speletjies, het ek nie aan die speletjies deelgeneem voordat alles in my tuin natgelei en sonder onkruid was nie. 
My pa het dikwels saam “geboer” in my tuintjie as ek ver met ander ander plaaswerk besig was. 
Jare later het my groen vingers my eerste groot wins met katoen besorg, en ek het die eerste rys-velde in die Bosveld geplant.

Spookstories 

'n Witgatboom lyk selfs bedags spokerig.
Het jy al ooit spoke gesien? Of spoke gevang? Of ’n spook so skrik gemaak dat hy op vlug slaan? 
Ek het, en dit was alles die swak maanlig en my sterk verbeelding se skuld…
Oom Nols van Niekerk kom eendag by ons huis aan en vra of pa skape het om te verkoop. Ja, sê pa, maar my verkoop skaap loop langsaan op huur veld. 
Ek word gestuur om ou Hendrik te vertel hy moet die volgende dag die skaap laat wei na Groot Muishondnek, waa pa en oom Nols die namiddag sal opdaag om die skaap te kyk.
Ek vat kortpad met die rivierbedding af na die huurplaas se water, dit nagenoeg agt myl se stap en ek was so vroeg daar dat ek vir ou Hendrik en die trop verkoop skaap moes wag. 
Die son was net onder en wou ek my terugtog huistoe begin, maar Hendrik is honger vir gesels en sê ons maak eers tee, want ons albei is mos nou moeg gestap na die dag. 
Tee gedrink was dit sterk skemer. Ek kon nou in die donker weer kortpad vat nie, want die sekelbosse haak mens te veel raak in die donker. 
Die lang pad beteken ’n ekstra ent se stap van so amper twee myl. Die eerste ent volg ek ’n redelike oop beesvoetpad voordat ek met die wapad aansluit. Dit was nou goed donker met ’n halfmaantjie agter my toe ek voor ’n rand kom, en meteens ’n wit spook voor my sien. 
Regs is die rand met kranse en links van my is ’n lap swarthaak. 
Retireer ek, kry die spook kans om my van agter by te kom. Links verby kan ek ook nie, want ’n mens kan deur die swarthaak bosse gaan nie. 
Daar bly net een uitweg, ek moet by die spook verby. Die spook hang nou al so voet bo die grond.
Vasberade nader ek hom, met my oë vasgepen vir enige beweging. 
My vel was nou al skurf van hoendervleis, want al my koes en nader beweeg beïndruk die spook niks. 
Ek buk meteens en gee voor ek tel ’n klip op, en sien reg anderkant die spook boomtakke.
Ek staan vas in my spore en bekyk die apperasie deur my kop van regs na links te beweeg en maak uit dat dit nie ‘n spook is nie, maar ’n bos of iets wat wit bas en takke het. 
By nog nadere ondersoek vind ek dat dit ’n witgatboom is wat in die dowwe maanlig ’n wit skynsel het. Ek gaan toe tot by die boom en betas hom en al my hoendervleis verdwyn net daar.
Ek sit my stap voort om op die randjie met die pad aan te sluit. Die hoogte af tot onder in die droë rivierbedding wat met baie groot bome begroei was. 
Die pad kronkel heen en weer tussen die bosse en bome. Ek was amper regoor Muishondnek toe nog ’n ronde wit ding tussen twee groot bosse aan die regterkant van die pad verskyn. 
Ek steek vas en kyk na die beweeglike wit ding, wat ook nie op die grond rus nie, maar sweef.
Die hoendervleis is terug en my voete wil net omspring en met die pad op terugvlug. 
Maar ek is darem nou al een witgatboomspook wyser en meen ek gaan die ding skrikmaak en verby storm. 
Ek hoop net ek kan vinnig genoeg te hol sodat die spookding my nie van agter inhaal nie! Maar toe ek die ding met ‘n groot skreeu skrikmaak, verdwyn die ding spoorloos. 
Ek gaan vinnig nader om te sien of hy miskien nog onder die bos skuil en merk dat daar ’n gat onder die bos is en hoor ook iets in die gat beweeg.
Ek tel ‘n klip op en gooi dit in die gat. 
Met ’n lawaai spring die spook anderkant die gat uit en vlug die rant na die nek se kant uit.
Die keer herken ek die dowwe geratel van ’n ystervark se hol stertpenne. 
'n Ystervark met sy penne reg om te steek.
Sien, ystervarke hou daarvan om gate onder brasdoringsbosse te grawe om by die wortels te kom. 
Ek moes die knaagdier in die donker verras het, en het hy sy penne gelig om grootter te lyk. In die dowwe maanlig het die wit dele van die penne helder gelyk, wyl sy swart onderlyf die indruk geskep het dat die wit dele bo die grond sweef.
So het ek in een aand van een “spook” gevlug en ’n ander “spook” op vlug laat slaan.

My eerste voorbode

Ollie se eerste voorbode.
Terwyl my witgatboom en ystervark nie regte spoke was nie, het ek wel voorbodes gekry. De eerste een was toe ek nog baie jonk was. 
Ek het een aand gedroom dat oupa Nel van ons af in suidelike rigting wegstap na ’n groot blou berg waarin daar ’n groot gat soos ’n tonnel is en van die ander kant ’n helder lig soos die son inskyn.
Oupa het altyd ’n hoed gedra en toe hy voor die tonnel kom, draai hy om en kyk oor sy linker skouer na ons, lig sy hoed in ’n totsiens gebaar en verdwyn daar in die helder lig.
Na ek wakker geword, het ek die droom nie soos meeste ander dadelik vergeet nie. Instede het ek aanhoudend aan die snaakse droom gedink. 
Toe ma my veldkos agter die huis by ’n groot plat kliptafel inpak, vertel ek haar van my droom en vra wat dit kan beteken?
Sy sê toe, “ jy het seker maar gister aan oupa gedink daar by die skaap in die veld”.
“Nee ma” se ek, “ek het niks aan oupa gedink nie”.
Ek neem my pakkie kos en sê vir haar totsiens en gaan na my trop skaap. Die aand kom ek tuis en meld aan ma dat ek nie kan vergeet van my droom oor oupa nie. 
Die derde dag, die aand met my tuiskoms, arriveer daar ’n onbekende bruin man te perd met ’n telegram dat oupa daardie nag van my droom oorlede is.
Keetmanshoop se Poskantoor
Ek het dadelik die posmeester se handskrif herken omdat ek die plaaslike pos agentskap bedryf het. Elke keer wat ek dorp toe gery het, het ek die pos vir 10 plase om Skanse terug gebring en dan afgelewer.
Ek het eers die briewe gratis by afgelewer, maar die boere het later ooreengekom om elkeen ‘n paar sjielings in ’n fonds te betaal sodat ek ₤1 per maand kan kry vir my aflewerings. 
Om die rede was ek goed bekend met die posmeester op Keetmanshoop, en so ook my ouers. Korrespondensie was destyds feitlik alles in handskrif en die posmeester se sierskrif was vir my besonders mooi.
'n Telegraaf waarmee Morse kode gestuur was. 
Die poskantoor het destyds met Morse kode kort boodskappe oor telegraaf lyne gestuur. ’n Amptenaar het aan een kant van die lyn die kort en lang seine van die kode gestuur, wat ’n amptenaar dan aan die anderkant moes ontsyfer, in gewone taal neerskryf en laat aflewer.
Toe hy die boodskap van my oupa se dood ontvang, wou die posmeester so gou moontlik die doodsberig by Skanse kry. 
Oom Fred se rooi Buick.
Ons buurman, oom Fred was toevallig net die oggend by die poskantoor, en die posmeester het hom gevra of hy nie die telegram na pa sal kan aanstuur nie. Ek onthou die twee ou broers, Alf en Fred het elk met ’n groot rooi Buick gery.
Oom Fred sê, “Ja, vir oom Okkie enige tyd”. Toe die oom Fred tuiskom met sy rooi Buick, stuur hy die telegram per perderuiter die laaste 20 myl na ons. Oupa was toe al die vorige namiddag begrawe.

Saaiboer op Keimoes

Lusernbale op pas gesnyde lande.
Op ’n dag kry pa ’n brief van ouma dat Johannes, ma se jongste broer, na die Polisie gaan en ouma nie alleen met die boerdery kan aangaan nie, en kan my ouers vir my spaar om vir ouma met haar boerdery te help?
Net die volgende dag is pa en ma per perdekar na oom Elias, ma se oudste broer op Gurus, om die saak met hom te bespreek. Hy stem saam, ek kan as die oudste kleinkind vir ouma gaan help boer. 
Die Ford T-model kon oor meeste klippe ry.
Oom Elias het toe al ’n jaar gelede oupa se eerste Fordjie gekoop en bied aan om my weg te bring Upington toe, sodra hy sy noodsaaklike werkies afgehandel het.
’n Week of wat later, net na ons pas die eerste hek tussen ons Warmfontein opgesit het, kom oom Elias in die T-model Fordjie aangery, en kon ek die hek seremonïeel vir die eerste keer oopmaak.
Hy stop en ons gesels ’n bietjie, pa klim in en neem my gereedskap saam terwyl ek op my fiets agterna trap dat die stof so staan. Ek kon maklik byhou, want die ou Tin Lizzie, soos wat die Ford T-model genoem was, het vir niks gestuit nie, maar die ou tjor was nie baie vinnig nie!
’n Perd is vinniger as ’n fiets, maar mens hoef nie ’n fiets in die veld te loop soek nie.
By die huis gekom, was dit al amper middag en ma pak vir my goedjies in terwyl ek my fiets uitmekaar haal en die raam en wiele agter aan die noodwiel vas maak. Vroeg die volgende oggend pak ons die 190 myl (305 km) gruispad na Upington aan.
Dit was nie lekker om vir my groente tuin totsiens te sê nie en dan was daar my posagentskap wat ek ook mos oorgee aan my een suster, wie die aflewering sou oorneem. 
Ook het ek besef dat ek vir Skanse miskien vir altyd totsiens sal moet sê. 
Maar ek het intens belanggestel in landbou en grondbewerking, en het besluit dat hierdie geleentheid ’n ander toekoms vir my inhou en ek was vasbeslote om my bes te doen om ’n sukses van die kans te maak en vir ouma tevrede stel.
Dit was ’n uitdaging om as jong seun van oornag van ’n veeboer na ’n landbouer te verander, maar met my groen vingers het ek uitgesien om met plante eerder as diere te werk. 
Ook sal ek met baie nuwe mense moet kennis maak, want behalwe vir ouma, haar seun Johannes, en haar dogter Babs wat ek geken het, was die plek vir my vreemd. 
Ons het net voor 11 uur daar arriveer terwyl almal op die plasie hard aan die werk was om lusern te hark en baal. Dit was begin Oktober en al baie warm.
Ek het vir ’n uur dinge so bietjie deurgekyk en na middagete saam ingeval, die hooi afgewerk na die baler, bale gebind en gehelp om die swaar bale laai tot laat daardie aand.

Nuwe beginne

Agter: Toekels en Marie, sittend: Ellie en Ollie, voor: Liena. (Wena was nog nie gebore.) 
Die lusern balery was ’n ondervindingryke begin vir die volgende fases in my lewe wat my eers as jong boer sien ryk word het uit katoen in die aanvang van die Tweede Wêreld Oorlog, toe as soldaat in Egipte waar ek onder Stuka lugaanvalle in my een been gewond was. 
Na die oorlog was ek lank ’n Nataller en weermag burokraat want ek het vir ’n paar maande troepe help uitklaar in Newcastle en toe in Pietermaritzburg gewerk het om al die oorskot militere toerusting op vendusies te verkoop.
As oud-soldaat het ek vir ’n staatsplot by Marble Hall in vandag se Limpopo provinsie gekwalifiseer. Die plotte het water uit die Loskopdam-skema gekry en ek en Ellie kon met harde werk en baie seën tussen 1950s en 1970s gou die plot opbou tot ’n winsgewende bedryf. 
Ek het die plot aan my seun Toekels verkoop en in die dorpie Rayton naby my jongste dogter Wena en haar man Lucas vir die eerste keer probeer aftree, maar gou die melktrein na Pretoria begin ry om vir Saadbeurs Ko-op, vir wie ek as lid eens saad gelewer het, te werk.
Na Ellie se dood aan kanker het ek ’n ruk by my dogter Lina en haar man Ben op hulle pragtige plot buite Machadodorp weer probeer aftree, voor ek besluit het ek kan nie so rond sit nie.
Ek het my laaste kar, ’n Leyland Marinatjie, tot die dak gelaai en terug gekeer Keimoes toe, waar ek nog baie avonture beleef het saam met my tweede vrou, Grietjie.

Popular posts from this blog

"You got to give it a go mate"